
Werner Kok tydens ’n oefensessie van die Haaie in Durban. Foto: Gallo Images
Die voormalige Blitsbok Werner Kok kry opnuut ’n geleentheid om die Haaie se afrigter, Sean Everitt, van sy deugde te oortuig.
Kok, alombekend as “Tarzan” vanweë sy haredos, is in die KwaZulu-Natallers se beginspan ingesluit vir Sondag se kragmeting in die voorbereidingsreeks teen Griekwas in Durban.
In die afwesigheid van ’n rits groot name soos Curwin Bosch, Marius Louw en Lukhanyo Am, wat verlede maand in die eindstryd van die Curriebeker-reeks gespeel het, kry spelers soos Kok, ’n vleuel, ’n geleentheid om stempel af te druk.
Die gesoute Jeremy Ward sal die span aanvoer, met Manie Libbok wat die nr. 10-trui sal dra. Libbok se skakelmaat is Grant Williams.
Die lostrio bestaan uit Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi en James Venter – almal gesoute spelers.
Reniel Hugo (slot) sal straks sy eerste verskyning in ’n Haai-trui maak, nadat hy onlangs die Cheetahs verlaat het om ’n Durbaniet te word. Hy is op die plaasvervangersbank.
• Haaie: Aphelele Fassi, Werner Kok, Jeremy Ward (k), Murray Koster, Manie Libbok, Grant Williams, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, James Venter, Hyron Andrews, JJ van der Mescht, Michael Kumbirai, Kerron van Vuuren, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Fezokuhle Mbatha, Ntuthuka Mchunu, John-Hubert Meyer, Reniel Hugo, Mpilo Gumede, Jaden Hendrikse, Jordan Chait, Thaakir Abrahams.