
Thomas du Toit gaan Saterdag ’n sleutelrol in die Haaie se halfeindstryd teen die Westelike Provinsie speel. Foto: Gallo Images
Sean Everitt was Donderdagoggend ’n tevrede afrigter.
Hy kon vir die eerste in die Curriebeker-seisoen ’n volsterkte span kies. Dit kon beswaarlik op ’n beter tyd kom, want Everitt en die Haaie sal nou met gemoedsrus na Kaapstad reis vir hul halfeindstryd teen die Westelike Provinsie.
Everitt sou óók breed glimlag oor die nuus dat die WP se beste speler, die loskopstut Steven Kitshoff, nie beskikbaar is nie. Thomas du Toit, die Haaie-vaskop, sal Kitshoff se plaasvervanger, Ali Vermaak, nou vol in sy visier hê.
Dit is by die skrums waar die Haaie sou voel die WP moontlik die oorhand kon kry. Terwyl die skitterende Bongi Mbonambi en Frans Malherbe steeds daar is, laat Kitshoff ’n groot leemte.
Die Haaie sal stilweg selfvertroue hê en glo dat húlle nou die kitaar in die skrums kan slaan. As dít gebeur, kan Curwin Bosch die toutjies vanuit die losskakel-posisie trek.
Terwyl dit dalk nie ’n aanskoulike wedstryd gaan wees nie, sal die Haaie voel Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Yaw Penxe en Lukhanyo Am kan met teenaanvalle enige fout wat die WP begaan, genadeloos uitbuit.
• Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Yaw Penxe, Curwin Bosch, Sanele Nohamba, Sikhumbuzo Notshe, Henco Venter, Dylan Richardson, Ruben van Heerden, JJ van der Mescht, Thomas du Toit, Fez Mbatha, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Dan Jooste, Mzamo Majola, Michael Kumbirai, Hyron Andrews, Thembelani Bholi, Jaden Hendrikse, Jeremy Ward, Manie Libbok.