Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Ou manne’ druk drie van hul vier drieë
Haaie kry byt terug teen WP in Durban

Die Haaie het gister op ’n koue, winderige middag in Durban hul ondersteuners se harte weer warm laat klop met ’n welverdiende oorwinning van 32-27 oor Westelike Provinsie.

Met dié Curriebeker-oorwinning, waarvoor hulle nogtans hard moes werk, het die verdedigende kampioene teruggekeer na die wenpad ná verlede Vrydag se skoknederlaag teen Griekwas.

“Ons het geen keuse gehad as om sterk terug te kom vanmiddag nie,” het ’n verligte Sean Everitt ná die tyd gesê. “Die span verdien hope krediet vir die wyse waarop hulle vandag volhard het vir hierdie waardevolle oorwinning.”

Lwazi Mvovo en JP Pietersen van die Haaie ná Mvovo se drie gister teen die WP in Durban.Foto: gallo

Die grondslag is voorlangs gelê waar die Haai-skrum van meet af stewig vertoon het. Die vaskopstut, Coenie Oosthuizen, was die spreekwoordelike hoeksteen en het met sy Speler van die Wedstryd-vertoning aangedui dat hy beslis nog ’n sterk aanspraakmaker is op die Groen-en-goud se nr. 3-trui.

“Ons het vandeesweek hard gewerk aan ons vaste fasette,” het Everitt gesê.

“Etienne Fynn (voormalige Springbok-stut en hoof van die Haai-akademie) het gehelp met die skrumwerk en hom goed van sy taak gekwyt. Ons was dus goed voorbereid op die uitdaging, veral as in ag geneem word hoe WP die Bulle voorlangs laat les opsê het.”

Die WP was egter steeds die beste daaraan toe wat sowel balbesit as gebiedsvoordeel betref het, maar die Haaie het geweldig beïndruk met hul rotsvaste verdediging. Die tuisspan het veral soos besetenes geduik in die laaste kwart toe WP die een mee­doënlose aanval ná die ander op hul doellyn geloods het.

“Ons het die ouens gevra om alles in die stryd te werp, en dis presies wat hulle gedoen het,” sê Everitt. “Hierdie span het geweldig gegroei in die bestek van slegs een week, en hulle kan trots voel op wat hulle vandag vermag het.”

Verder het die Haaie ook hul kanse beter benut deur WP uiteindelik met vier drieë teen drie te troef.

“Die druk wat ons in die verdediging op hulle uitgeoefen het, het ook ’n bydrae gelewer,” verduidelik Everitt.

“Die span het met heelwat meer energie en selfvertroue gespeel. Ons het hulle die vryheid gegee om te speel wat voor hulle is, want al hoe hulle as spelers kan groei, is as hulle leer om self besluite op die veld te neem.

“Dit was ook verblydend om te sien dat drie van ons vier drieë deur ‘ou manne’ soos Lwazi Mvovo, JP Pietersen en Craig Burden gedruk is. Hulle behoort in hulle noppies te wees daarmee.”

Die WP-breier, John Dobson, was uiteraard baie teleurgesteld, veral met die lustelose vertoning wat sy span opgedis het. Hy het ook uitgelig dat die Haaie heelwat beter uit die hand geskop het as sy span.

“Curwin Bosch en Rhyno Smith het albei uitsonderlike spel gelewer met die stewel, en het ons telkens takties uitoorlê,” het Dobson gesê.

Die Streeptruie kom eerskomende Saterdag op Nuweland teen die Goue Leeus te staan en Dobson het die versekering gegee dat sy span aansienlik beter sal vertoon.

“Soos die Haaie vandag, het ons nie juis ’n keuse as om sterk terug te kom nie,” het hy gesê.

“Die feit dat ons vanjaar ’n verkorte weergawe van die Curriebeker het, maak dinge heelwat moeiliker en ’n span kan eenvoudig nie bekostig om te veel droog te maak nie – veral nie as ’n mens aspirasies het om ’n halfeindstryd tuis aan te bied nie.”

Meer oor:  Haaie  |  Westelike Provinsie  |  Curriebeker-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.