Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie kry R1,83 m. vir Du Preez-tweeling

Die Haaie kon nou wel dié week twee van hul grootste sterre permanent aan die Sale Sharks-klub in Engeland verloor het, maar hulle het die boerpot gewen met ’n enorme oordragfooi – die grootste tot nog toe in Suid Afrikaanse rugbygeskiedenis.

Rapport het by twee bronne bevestig dat die Sale Sharks sowat 105 000 pond – nagenoeg R1,83 miljoen – vir die twee Du Preez-boeties – Jean Luc en Dan – opgedok het om hulle dadelik uit hul kontrak te kry.

Du Preez
Die Du Preez-tweeling, Dan (links) en Jean-Luc (regs), saam met hul ouer broer, Robert. Foto: Gallo

Die twee het ’n korttermynkontrak met Sale gehad om hulle in die Engelse Premierliga te verteenwoordig, maar hulle sou moes terugkeer voor die begin van volgende jaar se Superrugby. Die ooreenkoms wat dié week onderteken is, beteken albei sal saam met Robert junior, die losskakel en ouer boetie van die paar, permanent vir Sale Sharks beskikbaar wees.

Rapport het bevestig dat die oordragfooi die grootste nog in SA Rugby is en word gesien as ’n “ontwikkelingsfooi” vir die twee losvoorspelers. Rapport se inligting is dat die Haaie ’n hoër bedrag gevra het, maar na onderhandelinge op dié bedrag ooreengekom het.

Dit kom in dieselfde week dat die Haaie se pad met die tweeling se pa, Robert du Preez senior, as afrigter geskei het nadat albei partye ’n ooreenkoms bereik het om sy dienste te beëindig.

Volgens Rapport se inligting is Du Preez die res van sy kontrak uitbetaal en gerugte loop sterk dat hy hom by sy seuns by hul klub in Engeland sal aansluit, hoewel nog nie hy of die klub al ’n woord daaroor gerep het nie.

Sale het reeds vanjaar groot geld aan Springbokke bestee, veral met die aanwinste van spelers soos Lood de Jager, Akker van der Merwe en Coenie Oosthuizen wat reeds kontrakte onderteken het.

Die Springbokskrumskakel Faf de Klerk is reeds ’n groot aanwins vir die klub, terwyl Jono Ross, die oud-Blou Bul, by tye die afgelope jaar die klub se kaptein was. Die oud-Leeu-senter Rohan Janse van Rensburg is ook by die klub gekontrakteer. Josh Strauss was tot dié seisoen ook by die klub, maar het onlangs ’n kontrak met die Blou Bulle gesluit om volgende jaar weer Superrugby te speel.

Jean-Luc, wat al 13 toetse vir die Springbokke gespeel het, en Dan, wat vier keer vir die Springbokke uitgedraf het, is soos Robert junior, wat ’n enkele toets vir die Bokke gespeel het, misgekyk vir die huidige Springbokgroep en die kanse dat een van hulle in vanjaar se Wêreldbeker gaan speel, lyk tans skraal.

Die Haaie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Haaie  |  Engeland  |  R1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.