Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie moet in belang van Bok-rugby wen
Ruan Botha, die Haaie se kaptein, kry Saterdag die kans om die Bok-breier, Rassie Erasmus, te beïndruk. Foto: Gallo Images

Dit gebeur so selde dat ’n Suid-Afrikaanse span as die gunsteling vir ’n wedstryd teen ’n Nieu-Seelandse teenstander beskou word, dat ’n mens so half ongemaklik voel en nie lekker weet wat om van dié etiket te maak nie.

Een van twee dinge kan dus Saterdag met die Haaie gebeur wanneer hulle teen ’n uitgedunde Chiefs-span op Kingspark in Durban speel – die gunstelingmantel kan só styf om hul nek span dat dit hulle verwurg, of dit kan die nodige vuur verskaf om ’n skittervertoning te lewer.

Vir die Durbaniete, en eintlik die hele Suid-Afrika, is dit bitter belangrik dat laasgenoemde gebeur.

Die Haaie word vir twee beduidende redes as die gunsteling beskou. Eerstens sukkel die Chiefs met ’n magdom beserings en Damian McKenzie, Brodie Retallick en Anton Lienert-Brown is weens ’n All Black-kamp nie beskikbaar nie.

Die Haaie word as die gunstelinge beskou. Die Chiefs sukkel met ’n magdom beserings en Damian McKenzie, Brodie Retallick en Anton Lienert-Brown is weens ’n All Black-kamp nie beskikbaar nie.

Veral McKenzie se towerkunsies agterlangs en Retallick se spierkrag voorlangs sal leemtes so groot soos vulkaankraters in die Chiefs se mondering laat.

Die tweede rede waarom ondersteuners ’n Haaie-sege verwag, is die KwaZulu-Natallers se goeie vertoningslys vanjaar teen Kiwi-teenstanders.

Hulle het die Blues (weg) en Highlanders (tuis) geklop en met een punt in ’n rillerstryd teen die Hurricanes in Napier verloor.

As die Haaie die Chiefs klop, sal hulle die seisoen met ’n vertoningslys van drie uit vier seges teen Nieu-Seelanders afsluit, aangesien hulle nie vanjaar teen die Crusaders speel nie. Dis die rede waarom alle Springbok-ondersteuners Saterdag bankvas agter die Haaie moet staan – Suid-Afrika benodig spelers wat wéét hoe sukses teen Kiwi’s proe.

Die Bokke het in 2009 laas ’n sielkundige houvas op die All Blacks gehad. Sedertdien het dit amper aanvaarbaar geraak om teen Nieu-Seeland te verloor, mits die Bokke ’n goeie vertoning lewer.

Dié tendens moet uiteraard verander as Suid-Afrika weer die beste span in die wêreld wil word.

Dié verskuiwing kan op Superrugby-vlak begin. As jong Bokke soos Jean-Luc du Preez, Dan du Preez, Curwin Bosch en Lukhanyo Am wasdom bereik sonder die sielkundige letsels wat Kiwi’s op hul voorgangers agtergelaat het, kán Suid-Afrika dalk eendag weer oorheers.

Robert du Preez, die Haaie se losskakel, tydens ’n oefensessie in Durban. Foto: Gallo Images

Gepraat van Bok-kanse, met Lood de Jager en Eben Etzebeth wat die toetse in Junie gaan misloop, het Ruan Botha, die Haaie-kaptein, ’n kans om Rassie Erasmus, Bok-breier, aan sy deugde te herinner. Erasmus het hom vroeër vanjaar nie na ’n beplanningskamp genooi nie.

Die losskakel, Robert du Preez, en senters André Esterhuizen en Am is ook in ’n wedloop teen tyd gewikkel om hulle as voorkeur-Bok-kandidate te onderskei.

Maar terug by die kleiner prentjie. ’n Sege sal die Haaie se kanse om die uitspeelrondes te haal, ’n goeie hupstoot gee. Veral aangesien hulle volgende naweek die uitmergelende reis na Argentinië aandurf om teen die gevaarlike Jaguares te speel.

Maar eers moet hulle seker maak die hoë verwagtinge is nie ’n te swaar las om te dra nie.

Die spanne is:

Haaie: Curwin Bosch, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Lwazi Mvovo, Robert du Preez, Louis Schreuder, Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt, Ruan Botha, Tyler Paul, Thomas du Toit, Akker van der Merwe, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Franco Marais, Juan Schoeman, Ross Geldenhuys, Stephan Lewies, Jacques Vermeulen, Cameron Wright, Marius Louw, Makazole Mapimpi.

Chiefs: Scott Stevenson, Sean Whanui, Charlie Ngatai (k), Johnny Faauli, Solomon Alaimalo, Marty McKenzie, Brad Weber, Pita Gus Sowakula, Liam Messam, Luke Jacobson, Michael Allardice, Tyler Ardron, Angus Ta’avao, Nathan Harris, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Samisoni Taukei’aho, Sam Prattley, Sosefo Alaimano, Jesse Parete, Matt Matich, Te Toiroa Tahuriorangi, Luteru Laulala, Toni Pulu.

Skeidsregter: Mike Fraser (NS).

Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en Archie Sehlako (albei SA).

TV-skeidsregter: Willie Vos (SA).

Afskop: 15:05 op SS 1.


Meer oor:  Ruan Botha  |  Damian Mckenzie  |  Robert Du Preez  |  Durban  |  Beserings  |  Haaie  |  Superrugby  |  Chiefs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.