Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie nie bang vir verloor, sê Esterhuizen
André Esterhuizen se terugkeer is die enigste verandering aan die Haaie se agterlyn. Foto: Gallo Images

Die Haaie draf Saterdag sonder vrees vir mislukking op die veld in hul Superrugby-kragmeting met die Leeus in Durban.

Só sê die sterk Springbok-senter André Esterhuizen, wat terug in die Haaie se middelveld is vir dié wedstryd.

Esterhuizen se terugkeer is een van vier veranderinge aan die span van die Haaie wat hul vorige wedstryd voorverlede week teen die Chiefs in Hamilton, verloor het.

In die agterlyn is hy die enigste skuif, terwyl daar voorlangs aan die lostrio verander is. Dan du Preez vervang Philip van der Walt op agtsteman en Van der Walt skuif flank toe, waar Jacques Vermeulen vir hom plek maak.

Ruben van Heerden vervang die beweeglike slot Hyron Andrews, ’n aanduiding dat die Haaie hul agttal lyf wil gee en fisiek staande wil bly teen die span van die Goudstad.

Mzamo Majola kry Saterdag teen die Leeus kans om die Haaie se skrum te anker.Foto: Gallo Images

Met Thomas du Toit en Beast Mtawarira wat albei beseer is en nie hul plek as loskopstut kan inneem nie, open dit die deur vir Mzamo Majola om ’n rare kans in die beginspan te kry.

Daar is ook ’n groentjie-haker op die plaasvervangerbank, Dylan Richardson.

Volgens Esterhuizen gaan die Haaie plesier uit hierdie kragmeting wil put en gaan die wenfaktor hulle aanspoor om nie met die kettings van vrees vir nog ’n nederlaag op hul tuisveld op te draf nie.

“Elke wedstryd in die reeks, veral met die intense wedywering in die Suid-Afrikaanse groep, gaan van baie groot belang wees, maar ons wil nie onnodige druk op onsself plaas nie.

“Daarom gaan ons met glimlagte op die veld draf en vir mekaar speel.

Daar het dit vir ons gewerk dat jy vir die ou langs jou gespeel het.
André Esterhuizen

“Dit is iets waarop ons gedy het op ons oorsese toer en wat vir ons baie sukses gebring het. Daar het dit vir ons gewerk dat jy vir die ou langs jou gespeel het,” sê hy.

Die besluit wat die afrigter, Robert du Preez, geneem het om sy seun, Robert (jnr), op hul toer oorsee as losskakel te pos ten koste van Curwin Bosch, het soveel vrugte afgewerp dat daar nou weer hier by die huis daarmee volhard word.

Bosch dra weer die nr. 10-trui, met Robert wat eers sy sit op die plaasvervangerbank sal moet kry.

Die Haaie se span is:
Aphalele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Louis Schreuder (k), Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt, Ruan Botha, Ruben van Heerden, Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, Mzamo Majola. PLAASVERVANGERS: Dylan Richardson, Juan Schoeman, John-Hubert Meyer, Hyron Andrews, Jacques Vermeulen, Cameron Wright, Robert du Preez, Kobus van Wyk.

Meer oor:  Andre Esterhuizen  |  Durban  |  Leeus  |  Superrugby  |  Derby  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.