Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie put vertroue uit 2014 se sege
Die voormalige Haaie-afrigter, Jake White vier die Haaie se sege oor die Crusaders in Christchurch in 2014 saam met Bismarck du Plessis en Beast Mtawarria. Foto: Getty Images

Wanneer ’n mens met Stephan Lewies praat oor die roemryke dag in die Haaie se geskiedenis toe hulle die Crusaders met 14 spelers in Christchurch geklop het, help hy jou vinnig reg.

“Dit was eintlik met 13 spelers. Sê so, dit klink beter,” sê Lewies wat daardie dag, 17 Mei 2014, op slot gesak het toe die Haaie die eerste Suid-Afrikaanse span sedert 1996 geword het om die Crusaders in Christchurch te klop.

Die huidige lot Haaie put inspirasie uit daardie vertoning voordat hulle Saterdagoggend die verdedigende kampioen in dié spanne se kwarteindstryd in Christchurch pak.

Vier jaar gelede het die Haaie in die 16de minuut vir Jean Deysel aan ’n rooikaart afgestaan. Willem Alberts het boonop in die 64ste minuut ’n geelkaart gekry.

Toe het ons name getrek en jy moes die ou wie se naam jy getrek het, se trui vir hom oorhandig en vir hom sê wat hy vir die span bied. Dit was ’n emosionele gedoente.
Stephan Lewies

“Daardie jaar het Jake (White, toe die Haaie-breier) voor elke wedstryd ’n oudspeler gekry om ons truie uit te deel. Voor die wedstryd teen die Crusaders was daar niemand beskikbaar nie,” onthou Lewies.

“Toe het ons name getrek en jy moes die ou wie se naam jy getrek het, se trui vir hom oorhandig en vir hom sê wat hy vir die span bied. Dit was ’n emosionele gedoente.

“Dit was boonop Jannie (du Plessis) en Beast (Mtawarira) se 100ste wedstryde. Ons was ongelooflik opgesweep,” sê hy.

Die Haaie het daardie wedstryd gewen, maar later in die halfeindstryd met 38-6 teen die Crusaders op dié Kiwi-reuse se intimiderende tuisveld vasgeval.

Stephan Lewies vroeër vanjaar teen die Chiefs in aksie. Foto: Gallo Images

Lewies, wat met ’n kniebesering sukkel, het ook raad vir sy spanmaats.

“Jy kan die Crusaders nie té veel respek betoon nie. Jy moet gló jy kan hulle klop, anders help dit nie. Jy moet selfvertroue hê.

“Ek glo die ouens het daardie selfvertroue. Daar is eintlik baie min ouens in die huidige span wat al teen die Crusaders in Christchurch gespeel het, so daar is geen sielkundige letsels nie.”

Mtawarira en die vleuel Lwazi Mvovo is die enigste spelers wat daardie dag in 2014 gespeel het, wat by Saterdag se span ingesluit kan word.

Lewies glo ook die feit dat die Haaie vanjaar goed gevaar het teen Nieu-Seelandse spanne, sal hulle baie selfvertroue gee.

Die Haaie het die Blues, die Highlanders en die Chiefs geklop, terwyl hulle net-net teen die Hurricanes in Wellington vasgeval het.

“Ek dink ons fisiekheid help ons baie, veral met André (Esterhuizen) en Lukhanyo (Am) in die middelveld, wat ons oor die voordeellyn kry.

“Ons het dan groot voorspelers wat ná daardie fases om die hoekies kom. Ons gaan Saterdag wel vir Jean-Luc (du Preez, beseerde Bok-flank) mis, maar ons het nietemin goeie plaasvervangers,” sê hy.

Hulle het baie goeie senior spelers soos Kieran Read en Sam Whitelock wat van voor lei. Hulle is ook ’n span wat die heeltyd beter raak.
Stephan Lewies

Die Crusaders is ’n gedugte eenheid. Hulle het in die laaste twee jaar slegs drie uit 31 wedstryd verloor.

“Hulle het baie goeie senior spelers soos Kieran Read en Sam Whitelock wat van voor lei. Hulle is ook ’n span wat die heeltyd beter raak.”

Hoewel die Haaie aan chroniese onbestendigheid ly, glo Lewies nie dít tel vir enigiets in uitklopwedstryde nie.

“Dis waar, ons was baie onbestendig deur die jaar. Maar as ons Saterdag een van ons beste wedstryde speel, dan ... hoe kan ek dit sê, dan moet die Crusaders oppas.”

Meer oor:  Jake White  |  Beast Mtawarira  |  Nieu-Seeland  |  Canterbury  |  Kwarteind  |  Haaie  |  Crusaders  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.