Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie reg vir kil, vyandige Canberra
Ruan Botha lei die Haaie op die veld op hul vorige besoek aan Canberra in 2018. Hoewel dit uitdagend vir besoekende spanne is om in dié stad sukses te behaal, het die Haaie twee van hul laaste vyf wedstryde daar gewen. Foto: Getty Images

Canberra is ’n koue en kil plek om te moet gaan rugby speel.

So sê iemand wat as jare lange spanbestuurder van die Haaie dikwels daar besoek afgelê het.

Dit is Piet Strydom, ’n eertydse heelagter van die Vrystaat en lid van die bekende Strydom-sportgesin van Bloemfontein, wat diep spore in die Vrystaat getrap het. Strydom was later ook die sameroeper van Natal-rugby en het toe die Haaie se spanbestuurder geword.

Hy was juis die spanbestuurder toe die KwaZulu-Natallers in 2001 in die destydse Super12-reeks se eindstryd in Canberra teen die Brumbies gespeel het en met 36-6 afgeransel is.

Benewens die feit dat dit ’n kil plek was om in te speel, was die skare baie vyandig en hulle het ook naby aan die veld gesit.
Piet Strydom

“Benewens die feit dat dit ’n kil plek was om in te speel (toe was dit nog as die Bruce-stadion bekend), was die skare baie vyandig en hulle het ook naby aan die veld gesit en die teenstanders openlik en luidrugtig gekoggel,” vertel Strydom.

“Hulle het op die afdak van die hokkie waar ons plaasvervangers gesit het, kom slaan en groot lawaai gemaak,” sê hy.

Net soos die Haaie nou eers tyd in Sydney deurbring in die voorstad Coogee, het die Haaie die week van die eindstryd in 2001 by die Manly-strand in Sydney gebly voordat hulle Canberra toe is.

“Ek moet sê die vraag kan gevra word of dit altyd die regte ding is om te doen,” sê Strydom.

“In Sydney heers daar so ’n gemoedelike vakansie-atmosfeer en is die weer ook aansienlik warmer en beter as wat die geval in die koue Canberra is.

“Ek het gevind dit kan dan maklik gebeur dat die spelers nie in die regte geestestoestand is wanneer hulle dan in Canberra aankom en ’n dag of wat later moet speel nie,” sê hy.

Tog het Strydom, ’n statistiek-ghoeroe van die Haaie, onthul dat hul rekord daar in Canberra sedert 2010 nie te versmaai is nie.

Hulle het in hul laaste vyf wedstryde daar twee gewen en drie verloor.

Die uitstaande aspek is die klein punteverskille. Geen wedstryd in dié tyd is met meer as sewe punte gewen óf verloor nie.

Brumbies

Die Haaie se oorwinnings was in 2012 (29-26) en 2017 (27-22), met die nederlae in 2010 (22-24), 2014 (9-16) en in 2018 (17-24).

Wat uitspeelstryde sedert 2010 betref, het die Haaie twee gewen en vyf verloor.

Een van hul oorwinnings was in 2012 oor die Reds in Brisbane (30-17), waarna hulle teruggevlieg het Suid-Afrika toe en die Stormers (26-19) in Kaapstad geklop het, voordat hulle na Hamilton in Nieu-Seeland moes vlieg vir die eindstryd en daar met 37-6 deur die Chiefs verslaan is.

In 2011 het hulle met 8-36 in die kwarteind teen die Crusaders in Nelson verloor. In 2014 het hulle die Highlanders in Durban met 38-6 geklop in die kwarteind, maar toe weer met 6-38 in die halfeind teen die Crusaders vasgeval.

Soos in 2010 en 2013 was hulle in 2015 nie by uitspeelstryde betrokke nie, maar die laaste drie jaar het hulle telkens in die agtste plek geëindig.

Die laaste twee kere wat hulle oorsee was vir uitspeelstryde het hulle groot loesings op die lyf geloop. In 2016 het hulle met 0-41 in Wellington teen die Hurricanes verloor in ’n kragmeting waar gesê is dat die Haaie baie gelukkig was om nul te kry. Verlede jaar het die Crusaders hulle in Christchurch met 40-10 verniel.

In 2017 het hulle net-net met 21-23 op Ellispark in die kwarteind teen die Leeus verloor.

Meer oor:  Canberra  |  Australie  |  Haaie  |  Brumbies  |  Superrugby  |  Kwarteindronde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.