Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Teichmann klaar met Kingspark; Cell C ook?
Haaie se baas Gary Teichmann waai

Gary Teichmann, die Haaie se uitvoerende hoof, gaan in September die tuig neerlê.

Die voormalige Springbok-kaptein, wat in 2016 tot die administrasie van rugby toegetree het toe hy die beleërde John Smit as uitvoerende hoof op Kingspark vervang het, sal egter voor sy vertrek eers ’n nuwe hoofborg vir die Haaie wil vind.

Gary Teichmann, die uitvoerende hoof van die Haaie. Foto: Gallo Images

Teichmann se kontrak van drie jaar verstryk in September en die aanduidings is dat hy nie langer in sy pos sal aanbly nie.

Rapport het by drie ingeligtes verneem die 52-jarige Teichmann wil nie langer in een van die warmste stoele in Suid-Afrikaanse rugby sit nie. 

Teichmann, ’n suksesvolle sakeman, is gefrustreerd omdat die finansiële stand van Suid-Afrikaanse rugby en die swak waarde van die rand dit vir hom onmoontlik maak om span te bou. 

Die Haaie wou nie enige amptelike inligting oor Teichmann se toekoms bekend maak nie.

“Ons reageer nie op bespiegelinge nie. As daar nuus oor enige moontlike skuiwe vorentoe is, sal ons die veranderinge dienooreenkomstig aankondig,” het Novashni Chetty, kommunikasiebestuurder van die Haaie, aan Rapport gesê.  

Teichmann, ’n produk van Maritzburg College, Cedara en Maritzburg Varsity, is weg van die rugbyveld ’n gerekende sakeman en is al langer as 20 jaar die eienaar van Teichmann Civils – ’n maatskappy wat masjinerie vir die konstruksiebedryf, paaie en grondverskuiwings in Afrika verskaf.

Hy sal sy salaris weer heeltyds in sy onderneming verdien. Hy het destyds met sy aanstelling beklemtoon dat hy nie om geldelike redes by die Haaie betrokke raak nie, maar eerder oor sy passie en liefde vir die unie. 

Al was Teichmann die Haaie se uitvoerende hoof, het hy steeds baie van sy tyd aan sy eie onderneming bestee.

Voordat Teichmann by Kingspark loop, sal sy grootste uitdaging wees om te verseker dat die Haaie ’n nuwe hoofborg het. Cell C se borgskap loop einde vanjaar tot ’n einde nadat hulle van 1 Januarie 2014 die hoofborg van die Durbanse span was. 

Rapport verneem Cell C was vroeër erg daarteen gekant om sy borgskap van die Haaie te verleng, maar ná onlangse bestuurskuiwe by die selfoondiensverskaffer is positiewe gesprekke met die unie gevoer, wat die Haaitenk hoop gegee het dat Cell C tog sy borgskap sal verleng.

Die Haaie is so desperaat op soek na ’n hoofborg dat hy vroeër selfs gepoog het om Toyota Suid-Afrika te oortuig om hulle, eerder as die Cheetahs, te borg. Dié borgskap beloop sowat  R90 miljoen oor drie jaar. 

SuperSport moes die Haaie ná die John Smit-era met sowat R40 miljoen uit ’n geldelike penarie help.

In Durban word Eduard Coetzee, voormalige stut van die Haaie, as die mees geskikte plaasvervanger vir Teichmann beskou. Hy is die Haaie se bedryfshoof en is by die werwing van spelers betrokke. 

Meer oor:  Haaie  |  Gary Teichmann  |  September
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.