Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie se Boeta volwaardige ‘all-rounder’

Die Haaie se 20-jarige losskakel Boeta Chamberlain het op skool in krieket, atletiek én rugby uitgeblink.

“Hy was ’n volwaardige all-rounder,” onthou Sean Erasmus, wat Chamberlain by die Hoër Jongenskool Paarl afgerig het.

Boeta Chamberlain in 2015 in die eindstryd van die nasionale T20-skoleweek in aksie. Foto: Gallo Images

Chamberlain het die naweek sy Curriebeker-buiging vir die Haaie in hul oorwinning van 30-28 oor die Goue Leeus in Johannesburg gemaak.

Op skool kon Chamberlain egter verskeie sportsoorte kies waaruit hy eendag ’n lewe wou maak.

“Hy het nooit regtig ’n afseisoen gehad nie, want hy het winter- en somersporte beoefen,” sê Erasmus, wat deesdae ’n afrigter by die Goue Leeus is.

Chamerblain was in 2015 deel van die Boishaai-krieketspan wat aan die nasionale T20-week deelgeneem het. Toe was hy maar in gr. 10.

Hy het die Westelike Provinsie ook in 2012 op die nasionale o.13-week verteenwoordig. Daar het hy ’n onoorwonne honderdtal teen die Vrystaat in die Paarl getimmer.

Sean Erasmus, die voormalige afrigter van Paarl Boishaai se eerste rugbyspan. Foto: Gallo Images

Dit was egter op skool reeds duidelik dat Chamberlain ’n bitter belowende rugbyspeler is.

“Hy was deel van daardie eerste span wat onoorwonne in Suid-Afrika was en slegs die een wedstryd teen Christchurch Boys’ High in Nieu-Seeland verloor het.

“Hy het so nou en dan met beserings gesukkel, maar wanneer hy beskikbaar was, was hy my voorkeur-losskakel,” sê Erasmus.

Chamberlain het Sondag op Ellispark met ’n skitterende skepdoel geslaag, wat op die einde die verskil in die wedstryd gemaak het.

Erasmus onthou dat hy op skool reeds skepdoele begin skop het.

“Hy was altyd baie kalm onder druk. Hy is ’n natuurlike balspeler en blitsvinnig van die merkie af. Hy skop ’n bal ’n myl ver en sy verdediging is ook stewig. Hy is ’n totale losskakel.”

Dit is daardie wye bestek vaardighede wat van Chamberlain ’n spesiale speler kan maak, sê Erasmus.

“Ek glo hy het ’n goeie toekoms, veral omdat hy nou in ’n hoëprestasie-omgewing is waar hy goeie voorseisoen-voorbereiding sal hê.

“Hy is boonop ’n goeie mens. Hy is nederig en werk baie hard,” sê Erasmus.

Boeta Chamberlain skop soos ’n muil, sê sy skoleafrigter Sean Erasmus. Foto: Gallo Images

Die Haaie se breier, Sean Everitt, het Chamberlain verlede jaar by die o.19-span afgerig, waar hulle saam die nasionale o.19-reeks gewen het. Hy was in sy noppies met die jong Turk se vertoning teen die Leeus.

Everitt sal moet besluit of hy Chamberlain in sy 23-tal gaan behou vir hul wedstryd teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld die naweek as Curwin Bosch wel van sy rugspasmas herstel het.

Die kans is goed dat Bosch teen die Ligbloues sal kan speel.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.