Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie se Everitt erken harde werk wag

Nadat die Haaie hul veldtog in die Curriebeker-reeks met ’n bonuspunt-sege oor Griekwas afgeskop het, het die Durbaniete se afrigter, Sean Everitt, dit duidelik gestel dat hulle vanjaar hul oë op daardie trofee het.

Juis daarom was Everitt in sy noppies nadat sy span die Poubloues Saterdag met 30-16 in Kimberley geklop het en boonop in die proses ’n bonuspunt gekry het.

Phepsi Buthelezi, kaptein van die Haaie, op pad na sy drie. Foto: Tafel Lager Griekwas

“Dit was ’n goeie poging deur die ouens. Dit is nooit maklik in Kimberley nie. Ek is altyd gelukkig om die maksimum punte te kry,” het Everitt gesê.

“Die Haaie sukkel gewoonlik in Kimberley om ’n sege te behaal, veral as in ag geneem word dat die span slegs een week gehad het om voor te berei.

“Dit is regtig ’n baie goeie begin in ons veldtog in die Curriebeker – wat ons wil wen.”

Sommige skeptici sal dalk hul oë rol wanneer ’n afrigter sê dat sy span ’n trofee wil wen – geen span speel immers om te verloor nie. Maar Everitt se opmerking het ’n vasberadenheid verklap om 2021 dié jaar vir die KwaZulu-Natallers te maak.

Tog was dit allermins ’n foutelose vertoning deur die Haaie. Vroeg in die wedstryd het hulle byvoorbeeld by meer as een geleentheid strafskoppe by skrums afgestaan.

Hulle het hulself egter reggeruk, met veral die besoekers se loskopstut, Khwezi Mona, wat vir sy regstreekse teenstander, Andries Schutte, later ’n paar probleme veroorsaak het.

Sean Everitt, afrigter van die Haaie. Foto: Gallo Images

Daar was ’n horde aspekte van die Haaie se spel wat Everitt sou laat glo het dat die Curriebeker wel later vanjaar ’n staanplek in Durban kan kry. Die besoekers se voorspelers, met spelers soos die losvoorspelers Phepsi Buthelezi en James Venter aan die spits, was woelig met die bal in die hand en het gehelp om Griekwas voorlangs te boelie.

Dan het Werner Kok (vleuel) vroeg in die tweede helfte ’n skoppie gegee wat tot ’n drie vir Jeremy Ward (senter) gelei het – bewyse dat daar flair in die Haaie se spel is.

Everitt het straks ’n sug van verligting geslaak toe Kerron van Vuuren, plaasvervanger-haker van die Haaie, met net meer as ’n minuut se speeltyd oor oorgeduik het vir sy span se vierde drie – wat die bonuspunt beteken het.

Die bonuspuntsege ten spyt het die breier toegegee dat daar nog baie harde werk voorlê en daar ook ’n aantal dinge is wat kan verbeter.

“Ja, ons het werk wat gedoen moet word, maar hierdie is ’n maklike groep (spelers) om mee te werk, juis omdat hulle vinnig leer,” het Everitt gesê.

Puntemakers: Haaie 30 (10): Drieë: Phepsi Buthelezi, Jeremy Ward, Hyron Andrews, Kerron van Vuuren. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (2). Strafdoel: Chamberlain. Skepdoel: Chamberlain. Griekwas 16 (6): Drieë: Eduan Keyter, Daniel Kasende. Strafdoele: George Whitehead (2).

• Die Haaie het die komende week ’n loslootjie.

Meer oor:  Kimberley  |  Sean Everitt  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.