Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hendrik Cronjé gesels met Eduard Coetzee
Haaie se grootbaas: Reg vir ‘prime time’

Wanneer die oudstut Eduard Coetzee op 1 September as die nuwe hoof-Haai in rugby se raadsaal-skrum sak, sal daar – net soos in ’n regte skrum – ’n paar rowwe jafels op hom wag.

Die uitdagings staan as’t ware tou om ’n spreekwoordelike vinger in die oog van die 39-jarige Coetzee te druk. Cell C se borgskap van die Haaie verstryk oor minder as ses maande, en die unie moet óf ’n nuwe borg kry óf die selfoonmaatskappy oorreed om dit te verleng.

Die Haaie soek ook na ’n nuwe hoofafrigter nadat die termyn van Robert du Preez die afgelope week voortydig tot ’n einde gekom het.

Eduard Coetzee, nuwe uitvoerende hoof van die Haaie, maak gereed vir ’n onderhoud met SuperSport. Foto: gallo

Daarby het die span ’n rits steutelvoorspelers aan oorsese klubs afgestaan. Spelers soos Akker van der Merwe, Coenie Oosthuizen, Jean-Luc du Preez, Dan du Preez, Robert du Preez (almal Sale Sharks), Ruan Botha (London Irish), Philip van der Walt (Newcastle) en Jacques Vermeulen (Exeter Chiefs).

Coetzee is egter vol vertroue dat hy dié uitdagings die hoof kan bied – gepantser deur die kennis wat hy die afgelope drie jaar by sy voorganger, die oud-Bok-kaptein Gary Teichmann, opgedoen het.

Coetzee, die Haaie se bedryfshoof, en Teichmann, die unie se uitvoerende hoof, het drie jaar lank saamgewerk om die Haaie deur ’n stormagtige tyd vir Suid-Afrikaanse rugby te stuur.

“Hy het my by alle aspekte van die besigheid betrek en my inderwaarheid drie jaar vir die pos voorberei,” vertel Coetzee.

Coetzee sê dit was ’n reuse-voorreg om Teichmann die afgelope drie jaar te leer ken. “Ek het nie verwag om so deur hom beïndruk te word nie. Hy het almal se respek, in Durban en Suid-Afrika. Net dít op sigself stel ’n yslike uitdaging.

“Dis belangrik om te sê daar sal nie weer ’n Gary Teichmann wees nie. Ek gaan ook nie probeer om Gary te wees nie. Ek gaan beslis wel probeer bou op die sterk fondament wat hy gelê het.”

En – soos dit ’n goeie agtsteman betaam – sal Teichmann steeds daar wees om steun van agter af te verleen wanneer Coetzee voor in die skrum sak.

“Hy het onderneem dat hy betrokke sal bly. Ek wil hê hy moet steeds vorentoe in verskeie opsigte aktief betrokke by die Haaie wees,” sê Coetzee.

Al het die Haaie die Curriebeker verlede jaar gewen en vanjaar tot die uitkloprondes van Superrugby deurgedring, beleef Coetzee se franchise ’n herbouproses – onder meer weens die uittog van spelers na oorsee.

Coetzee glo egter sy span kan oor 12 maande weer ware beker-aanspraakmakers wees wanneer sy juniors eers behoorlike harde baarde gekry het.

“In die verlede het ons groot name ingebring, maar dit was maar eintlik ’n korttermynoplossing. As jy die kultuur op en van die veld gesond wil hê, moet jy mense kry wat in jou kultuur grootword en glo.

“Gary het my twee jaar gelede gevra om die rugbykant van die besigheid oor te neem. Ons het toe ’n hoëprestasie-afdeling ingebring. ’n Groot deel van daardie strategie was om die beste juniors in te bring. Die eerste plek waar ons na junior talent soek, is in ons eie provinsie.

Eduard Coetzee in 2002 in aksie vir die Haaie.

“Ons probeer die juniors in ons kultuur grootmaak. ’n Deel daarvan is dat hulle saambly (op ’n vlak van die Kingspark-stadion wat daarvoor ingerig is), eet en studeer.

“Ons het dieselfde strategie met ons junior afrigters. As ons hulle deur daardie sisteem laat groei, kan dit werk. Ons het dit verlede jaar gesien met ons o.19-span wat onoorwonne was en nou met ons o.21’s wat eintlik nog eintlik o.20’s is.

“Daar is 13 Junior Bokke in ons o.21-span. Dié strategie begin vrugte afwerp. Ons is nog so ’n jaar weg dat daardie spelers deur die o.21-geledere kom voordat hulle hul deurbraak op senior vlak maak. Ek glo ons sukses op die veld sal dan begin wys.”

Coetzee sê die Haaie het altyd geweet hulle gaan in ’n Wêreldbekerjaar baie spelers afstaan – soos die meeste SA unies.

“Ons het so goed moontlik probeer beplan om die spelers wat ons verlaat te vervang. Thomas du Toit moet byvoorbeeld die leemte vul wat Coenie Oosthuizen laat. Ruben van Heerden moet Ruan Botha vervang. Curwin Bosch moet Robert jr. op losskakel vervang.”

Die Haaie moet noodgedwonge in sekere posisies ook talent van buite hul eie grense werf. Die name van Ox Nche, James Venter en Henco Venter is van die wat genoem word waarmee Coetzee-hulle onderhandel.

Drie spelers wat dié week in die Suid-Afrikaanse skolespan ingesluit is, Jacques Goosen (haker, Selborne College), Jarrod Taylor (flank, Selborne College) en Kian Meadon (losskakel, Boishaai) tel onder die juniors wat later vanjaar op pad na Durban is.

“Een ding waarop ons aandring voordat ons iemand teken, is dat ons die outjies persoonlik gaan sien. Ons sê aan die speler wat ons van hom verwag en hy sê wat sy verwagtinge is. Sodoende kon ons bepaal of die speler ons visie en kultuur deel.

“Slegs dan is hy die regte speler. Talent alleen is nie meer wat ons soek nie.

“Ons bou aan ’n langtermyn-suksesplan. Ons sal egter steeds volgende jaar mededingend in Superrugby wees.

“Ek dink werklik ’n SA span sal weer vorentoe Superrugby wen. Onthou, die uittog van spelers is nie net ’n SA probleem nie.”

Die eerste plek waar ons na junior talent soek, is in ons eie provinsie.

Coetzee sê die Haaie wil ook spelers oplewer wat ná hul rugbyloopbane suksesvol is en plaas ’n groot klem op studies.

“Ons ooreenkoms met die spelers is dat ons vir hulle sal betaal as hulle slaag. As hulle nie hard werk nie en nie deurkom nie, moet hulle die geld terugbetaal.”

Sy skooldae op Affies het Coetzee baie oor ’n gesonde spankultuur geleer. “Ek het in 1993 by Affies as ’n oorgewig-skrumskakel aangekom. Toe het Sakkie van der Walt en Carel Kriek, wat die eerste span destyds afgerig het, met my gepraat om na stut te skuif.

“Ek het gedink hulle weet niks van rugby nie en gaan my lewe opneuk. Ek het in gr. 10 die eerste keer vir Affies se eerste span as stut gespeel. Carel en Sakkie het uiteindelik ’n groot invloed op my lewe gehad.

“Ek het destyds op Affies geleer wat ’n hegte band vriende in ’n span beteken. Dis eintlik maar niks minder as kultuur nie. Ek wil dit ook by die Haaie toepas. Skole met sterk kulture soos Affies, Grey-kollege, Paul Roos, Selborne en Paarl Gim doen goed.

“Affies het ’n groot impak op my lewe gemaak.”

Coetzee, wat op 8 September 1979 in Pretoria gebore is en ’n groot deel van sy kinderdae op Bapsfontein deurgebring het, het ook die Cravenweek-span van die Blou Bulle verteenwoordig en vir die SA Skolespan gespeel. Ná skool het hy die Bulle se o.19-, o.21- en Curriebekerspan verteenwoordig en ook die SA o.19- en o.21-span gehaal.

Hy is in 2001 na die Haaie waar hy as speler vertroud geraak het met die kultuur in die Haaitenk.

Hy het ook later in sy loopbaan by die Franse klubspanne Bayonne en Biarritz gespeel.

Sy loopbaan as ’n speler is in 2011, toe hy nog ’n kontrak tot 2013 by Biarritz gehad het, weens harsingskudding kortgeknip.

“Nadat ek in 2011 uitgetree het, het ek in ’n Franse bank gewerk. Ons het Franse burgerskap gehad en was gemaklik met ons leefstyl daar.

“Ek het toe konsultasiewerk vir Biarritz en Bayonne gedoen.

“Ek was ook die buitelandse verteenwoordiger op hul spelersvereniging. Ek het op so ’n wyse by rugbyadministrasie betrokke gehad.”

Die Coetzee-gesin het in 2012 na Suid-Afrika teruggetrek toe die verlange te veel geraak het. In 2014 het die Haaie hom vir konsultasiewerk genader. Ná drie maande is hy ’n heeltydse pos deur die Haaie as kommersiële en bemarkingsbestuurder aangebied. Ná twee jaar in bogenoemde pos is Coetzee as die bedryfshoof aangestel.

Sedert Coetzee ’n werknemer van die Haaie geword het, het hy as ’n oudstudent van die Universiteit van KwaZulu-Natal sy meestersgraad deur Ikeys se sakeskool gedoen. Dit het gehandel oor hoe om ’n sakemodel vir sport, meer spesifiek vir rugby, in Suid-Afrika te bou waar ons unieke uitdagings in ag geneem word.

Coetzee beskou homself as ’n gesinsman: “Ons Franse draai was baie goed vir ons huwelik vanweë die vreemde taal en omdat daar geen ondersteuningsnetwerke is nie. Ek en my vrou, Seren, moes letterlik ons lewe daar gaan herbou het.

“Ek is baie lief vir my gesin en my seuns Daniel (12), Benjamin (11) en Christian (6).

“Ons wil almal by die Haaie soos ’n gesin hanteer. Deur iemand goed te hanteer, beteken ook om daardie moeilike gesprekke te hê.

“Ons het ’n gesamentlike verantwoordelikheid by die Haaie, waar jy jou kant moet bring sonder dat iemand voortdurend oor jou skouer loer. Dís ’n kultuur wat ons by die juniors gevestig het en boontoe vat.

“Ons besef daar sal altyd goeie en slegte dae in sport wees. Maar as almal inkoop in die kultuur, plan en strukture, gaan die goeie dae stadig maar seker meer as die slegte dae word.”

Meer oor:  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.