Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie-senter Deysel op pad na Frankryk

Die Namibiese senter Johan Deysel het Vrydagaand in Durban sy laaste wedstryd vir die Haaie gespeel.

Hy sluit hom eersdaags by die Franse klubspan Colomiers aan.

Colomiers ding in die Pro D2 mee, Frankryk se tweede liga. Dié span bevind homself tans 14de op die puntelys uit die 16 spanne wat in die reeks meeding ná vier wedstryde.

Johan Deysel het Vrydagaand sy laaste wedstryd vir die Haaie gespeel. Foto: Gallo Images

Deysel (26) is Vrydagaand as plaasvervanger opgestuur in die Haaie se sege met 28-12 oor die Pumas in dié spanne se Curriebeker-wedstryd. Hy het ook een van sy span se vier drieë gedruk.

Hy het sy naam in 2015 in die geskiedenisboeke van Namibiese rugby verewig toe hy ’n drie teen die All Blacks by die Wêreldbeker-toernooi in Engeland gedruk het. Hy het sy land reeds in 22 toetse verteenwoordig en sal hoop hy kry die kans om volgende jaar by die Wêreldbeker-toernooi in Japan wéér teen Nieu-Seeland te speel. Namibië is ook saam met Suid-Afrika in ’n groep vir dié skouspel geloot.

Dié boorling van Windhoek het hom in 2017 van die Luiperds by die Haaie aangesluit. Hy het ook tussen 2013 en 2016 vir die Pukke in die Varsitybeker-reeks gespeel.

Deysel is vanjaar in elk van die Haaie se eerste drie Curriebeker-wedstryde as ’n plaasvervanger opgestuur.

In sy afwesigheid kan die vleuel Leolin Zas as ’n plaasvervanger oorweeg word vir die Haaie se volgende wedstryd in die reeks, op 22 September teen die Goue Leeus in Durban.

Zas het hom aan die einde van 2017 van die Westelike Provinsie by die Haaie aangesluit, maar hy het nie speelkans in die Superrugby-reeks gekry nie en is ook nog nie in die Curriebeker-reeks benut nie. Hy het wel in ’n paar wedstryde in die SuperSport-uitdaagreeks gespeel.

’n Ander senter wat die Haaie as ’n plaasvervanger kan oorweeg om dekking vir die voorkeursenters van Marius Louw en Jeremy Ward te bied, is Tristan Blewett.

Die Haaie het dié week ’n loslootjie nadat hulle al drie hul eerste wedstryde in die reeks met ’n bonuspunt gewen het. Ná die stryd teen die Goue Leeus, pak hulle die Westelike Provinsie, die verdedigende kampioen en nog een van die vroeë gunstelinge, op Nuweland.

Meer oor:  Frankryk  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.