
Cameron Wright sal hoop om sy loopbaan weer by die Kings te laat vlamvat. Foto: Gallo Images
Ná weke se onderhandelinge is die knoop eindelik deurgehak en sal die amperse Springbok-skrumskakel Cameron Wright voortaan vir die Southern Kings beskikbaar wees.
Dis nou al lankal nie meer ’n geheim dat die Kings met die Haaie onderhandel het vir Wright se dienste nie.
Dis egter eers nou dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie weer die beheer van die Kings-franchise by ’n konsortium van sakelui teruggeneem het, dat die kontrak onderteken is.
Wright is in 2018 deur Rassie Erasmus, toe die Springbok-afrigter, na Washington D.C. geneem waar die Bokke ’n toets teen Wallis gespeel het.
Wright het toe nie speelkans gekry nie, met Embrose Papier en Ivan van Zyl wat bo hom verkies is vir die 23-tal.
Wright het sy debuut in 2014 vir die Haaie gemaak, waar hy deur Jake White (nou die Bulle se direkteur van afrigting en hoofafrigter) raakgesien is.
White het hom die jaar daarna Frankryk toe gelok en Wright het twee jaar vir Montpellier, wat toe deur White afgerig is, gespeel.

Stefan Ungerer
Son
Hy is in 2018 terug na die Haaie, maar het veral die afgelope seisoen gesukkel om gereeld die uitsoekspan te haal.
By die Kings sal hy, onder andere, met Stefan Ungerer om ’n plek in die beginspan meeding.
Wright en Ungerer is albei 26 jaar oud en ken mekaar van jongs af. Hulle het eers as jongelinge mekaar vir ’n plek in die Haaie se jeugspanne en later die franchise-span opgekeil.
Ungerer het reeds in 2017 die eerste keer vir die Kings gespeel, waarna hy ’n jaar ’n draai by die Pumas gemaak het.
Hy het hom in 2018 weer by die Kings in Port Elizabeth aangesluit.
“Ons het vir ’n skrumskakel van gehalte gesoek en is baie opgewonde dat hy (Wright) deel van die Kings-familie gaan word,” sê Vuyo Zangqa, die Kings se agterlynafrigter, in ’n verklaring.
“Ons was op die uitkyk vir ’n ervare skrumskakel aangesien ons in Stefan Ungerer net een gesoute skrumskakel beskikbaar het.
Ons was op die uitkyk vir ’n ervare skrumskakel aangesien ons in Stefan Ungerer net een gesoute skrumskakel beskikbaar het.
Vuyo Zangqa
“Cameron sal nie net baie ervaring bied nie, maar ook vaardighede soos goeie skopwerk en sy vlugvoetigheid.”
Die Kings het in Josh Allderman en Gavin Mills ook twee jong, belowende skrumskakels, waarvan daar heelwat verwag word.