Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie sirkel wéér om WP-talent

Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd tussen die Westelike Provinsie en Haaie op Nuweland het angel bygekry oor die Durbaniete se aggressiewe inkopies in die Moederstad.

Leolin Zas Foto: Gallo Images

Netwerk24 verneem die Haaie het daarin geslaag om een van die WP se blink jong sterre, die vleuel Leolin Zas, vir aanstaande jaar te teken. Dít nadat hulle glo reeds al ’n kontrak met die losskakel Robert du Preez gesluit het.

Die skuiwe is nog nie amptelik bekend gemaak nie, want dit is op hierdie tydstip nog sensitief omdat spelers se huidige en toekomstige provinsies tans in kompetisie is.

Die nuus oor Zas kan straks ’n relletjie agter die skerms by die WP veroorsaak. Hy is tot aanstaande jaar buite aksie weens die ernstige beenbreuk wat hy in die voorseisoen opgedoen het, maar het verlede jaar oorgeloop van die belofte.

’n Mens kan die 21-jarige Zas tog nie verkwalik dat hy aanbiedinge van elders oorweeg nie nadat die WP die Cheetah-vleuels Sergeal Petersen en Raymond Rhule geteken het.

Daarmee saam is Seabelo Senatla en Dillyn Leyds ook in die prentjie vir aanstaande jaar se Superreeks, wat onsekerheid omtrent Zas se toekoms skep.

John Dobson, die WP se afrigter, krap intussen ook kop oor sy vleuels. Hy gaan waarskynlik vir Leyds heelagter toe moet skuif nadat SP Marais in die sege van 39-3 oor die Goue Leeus Vrydagaand ’n kniebesering opgedoen het wat hom straks minstens ses weke langs die kantlyn gaan hou.

Leyds se posisionele skuif sal waarskynlik beteken dat Dan Kriel op vleuel begin. Die verlies van Marais is ’n groot terugslag, maar daar is ook die verligting dat Leyds beskikbaar is nadat daar aanvanklik gedink is dat hy saam met die Springbokke Argentinië toe gaan toer.

Dobson meen intussen sy span is tot veel meer in staat as wat hulle in die indrukwekkende sege oor die Leeus gewys het.

“Ons het etlike lynstane afgestaan en ons taktiese skopwerk was ook nie waffers nie. Ons trek so by 70% van waartoe ek dink ons in staat is,” sê hy.

“Ek wil ook nie hê ons moet 200 duikslae in ’n wedstryd maak nie. Die fisieke aspek daarvan eis ’n groot tol op die spelers.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.