Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Ons is trofee aan onsself verskuldig’

Ná hul skitterende vertonings vroeër vanjaar in die Superrugby-reeks, glo die Haaie-slot Ruben van Heerden die spelers is dit aan hulself verskuldig om die Superrugby “Unlocked”-trofee te verower.

Ruben van Heerden, die Haaie-slot, tydens ’n oefening by Kingspark. Foto: Gallo Images

“Ek voel ons verdien dit om die reeks te wen, ons is dit aan onsself verskuldig ná die goeie Superrugby-reeks wat ons gehad het. Maar dit is nou verby, ons kan nie meer op daardie golf ry nie,” sê Van Heerden.

Die Haaie was boaan die Superrugby-puntelys toe die reeks in Maart weens die Covid-19-pandemie stopgesit is. Hulle het ses van hul sewe wedstryde gewen – wat drie oorwinnings in Australasië ingesluit het. Hulle was dus in ’n uitstekende posisie om met ’n groot eindpoging vorendag te kom, voordat die koronavirus met ’n plettervat onder hulle ingeseil het.

“Dinge het gebeur en ons het nou hierdie reeks en ons moet dit aangryp.”

Ná die inperking het die Haaie egter nog nie weer dieselfde peil as vroeër vanjaar uitgestal nie. Die afgelope naweek het die Bulle hulle met 41-14 op Loftus Versfeld geklop.

“Dit was baie teleurstellend, veral die wyse waarop ons verloor het. Die afrigters het die wedstryd hersien en al die foute wat ons begaan het, is goed wat reggestel kan word. Dit is dan ook waaraan ons gewerk het. Ons wil dit nou teen die Pumas regstel.

“Die telbord weerspieël dit dalk nie, maar die foute wat ons begaan het, was alles binne ons beheer en ons kan dit regstel.

“Die Bulle was baie goed. Ons het goed begin – hul rolmaalbewegings gestuit, uit die lyn opgeskiet en hulle hard geduik en goed geskrum. Iewers, ná so 30 minute, het ons die pad byster geraak.

“Ons moet daardie momentum vir 80 minute kan volhou. Dit het teen die Leeus ook gebeur dat ons later in die wedstryd weggeval het en dit is iets wat ons beslis sal verander.”

Dít is presies wat hulle die naweek teen die Pumas wil doen.

“Die geskiedenis het bewys jy kan die sogenaamde kleiner spanne nie ligtelik opneem nie. Jy moet skerp wees teen Griekwas en die Pumas. Hulle is altyd goed teen die groter spanne. Hulle het groter spanne al gereeld geklop.

“Ons weet wat hulle teen die Stormers gedoen het, ek dink hulle moes die Stormers geklop het. Ons gaan Nelspruit (Mbombela) toe met ’n duidelike plan en ons sal hulle nie geringskat nie.

“Hulle was takties uitstekend teen die Stormers. Hulle het verskeie swakpunte in die Stormers se mondering geïdentifiseer; ongelukkig het hulle gegly in die einde van die wedstryd.”

Van Heerden was vroeër vanjaar een van die Haaie se onbesonge helde en was ongelukkig om nie gekies te word vir die Springbok-proefwedstryd op Nuweland nie.

“Dit was effens van ’n teleurstelling, maar dit is buite my beheer. Ek wil net my beste vir die Haaie gee elke naweek. My droom van kleins af was om vir die Haaie te speel. Dis Swart-en-wit voor Groen-en-goud vir my.”

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby Unlocked  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.