Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie-spelers was benoud oor Yanks

Van die Haaie se spelers was onrustig oor die nuus dat die Amerikaanse konsortium MVM Holdings ’n beherende aandeel in die franchise bekom het, maar Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof, het hulle gou gerus gestel.

Sanele Nohamba en Yaw Penxe deel Donderdag ’n grappie tydens ’n blaaskans by die Haaie se oefensessie op Kingspark. Foto: Gallo Images

“Eduard het die groep toegespreek, want alle spelers sal bekommerd wees as daar nuwe eienaars is wat oorneem. Ons spelers is almal gekontrakteer en hulle hoef nie onveilig te voel nie,” het Sean Everitt, die Haaie se afrigter, vandeesweek op ’n nuuskonferensie gesê.

Everitt is ook gepols oor die moontlikheid dat Siya Kolisi hom by die Haaie kan aansluit nadat sy kontrak met die Westelike Provinsie later vanjaar verstryk. Kolisi het noue bande met minstens twee hoëprofiellede van MVM – Vincent Mai, die voorsitter en uitvoerende hoof van Cranemere LLC, en Michael Yormark, president van die sport- en vermaakagentskap Roc Nation International.

Mai het ’n beursskema gefinansier wat destyds vir Kolisi se onderrig by die Grey High School in Port Elizabeth betaal het, terwyl Kolisi ’n kliënt van Roc Nation is.

Daar’s glo ’n goeie kans dat Kolisi hom by die Haaie gaan aansluit, maar Everitt was katvoet oor die onderwerp.

“Totdat sulke kontrakte op ons tafel beland, kan ons nie daaroor kommentaar lewer nie. Ons sal kyk na enige speler van daardie gehalte, ongeag wie dit is. Ons het ’n klomp losvoorspelers hier, maar as daar ’n plan is vir Siya om hierheen te kom, sal ons hom met graagte ontvang.”

Kolisi het aan Stephen Nell gesê dat dit onvanpas sal wees om nou oor sulke sake te praat.

Thomas du Toit op volle vaart tydens ’n Haaie-oefening. Foto: Gallo Images

“Ek is steeds onder kontrak by die WP tot aan die einde van vanjaar. Ek het volgende naweek ’n wedstryd om te speel. Ek moet seker maak dat my fokus daar is,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Terwyl die vreugdevure in Durban brand oor die finansiële sekerheid wat MVM Holdings bring, loop rugby as produk in Suid-Afrika onder hewige kritiek deur.

Rugbykenners soos Nick Mallett, André Markgraaff, Swys de Bruin en Phil Pretorius het almal vandeesweek uitgevaar teen die gehalte van die rugby wat onlangs in Suid-Afrika opgedis is. Hulle meen daar is geen verbeelding nie. Spanne skrum en skop net.

Everitt sê daar is versagtende omstandighede.

“Jy moet eerstens kyk na die toestande waarin ons speel. Spanne probeer om die wedstryde stadiger te maak weens die versengende hitte. Dit speel beslis in Durban ’n rol.

“Ons oefen elke dag in hierdie toestande en ons weet dus hoe moeilik dit is om daarin te speel,” sê hy.

“Soms probeer die spelers om opwindende rugby te speel, maar individuele vaardighede laat hulle in die steek. Dit was beslis die geval in ons nederlae teen die Leeus en die Vrystaat.

“Ek dink nie enigiemand probeer negatiewe rugby speel, of rig negatiewe rugby af nie, dit is net hoe ons moet aanpas by die moeilike toestande. Ons het vanoggend in bedompige toestande geoefen – dit was om 09:00 reeds 32 °C. Dit is moeilik om aan die bal vas te klou.

“Boonop is Suid-Afrikaanse derbies oor die algemeen gegrond op tweestryde by die vaste fasette. Jy sien dit in Superrugby en dit is waaroor hierdie Curriebeker-reeks ook gegaan het.”

Meer oor:  Haaie  |  Wpru  |  Sean Everitt  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.