Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie steier ná ’n eie uitklophou

Brad Thorn, die Reds se afrigter en ’n voormalige All Black-breker, het Durban Vrydag hartlik bedank.

Nié vir die 22 duikslae wat die Durbaniete teen sy span gemis het nie.

Scott Higginbotham van die Reds kry die Haaie-losvoorspeler Dan du Preez in ’n kopklem in Vrydag se Superrugby-wedstryd op Kingspark.Foto: Steve Haag/Gallo Images

Ook nie vir die dosyne balle wat hulle afgestaan het, meestal weens hul slordige hanteerwerk, nie.

En ook nie vir al die Haaie se verspeelde punte-kanse nie.

Nee, Thorn se dankbetuiging was dat Durban een van sy seuns aan Queensland afgestaan het, en dat dit dié knaap se voorreg was om Kingspark en die mense van sy geboortedorp vir ’n oomblik doodstil te speel.

Die 21-jarige flank Liam Wright, wat op 6 November 1997 in Durban gebore is, het in die 83ste minuut van eergister se Super-wedstryd teen die Haaie die spreekwoordelike doodsklok vir die tuisspan gelui toe hy die Haaie sy laaste verbete poging, om hul agterstand van sewe punte uit te wis, gestuit het deur ’n strafskop af te dwing by ’n losgemaal.

Volgens Thorn was die oorwinning, die Reds se eerste in Durban sedert 2004, kritiek vir die gees van sy betreklik jong span.

“Ons kon nie op die vliegtuig terug Australië toe klim sonder ’n hupstoot soos hierdie nie,” het hy gesê.

Anders as die triomfantelike Reds, sal die Haaie se koppe en skouers hang wanneer hulle vandag die lang tog oor die Indiese Oseaan aanpak om die Waratahs Saterdag in Sydney die stryd aan te sê.

Die Durban-span se vooruitsigte lyk by die week droewiger.

Benewens die onrusbarende feit dat hulle vyf van hul eerste nege wedstryde vanjaar verloor het, lê daar drie strawwe weke voor in Australasië, met sowel die Crusaders, die kampioene, as die Chiefs wat ook op hulle wag.

“Saterdag se stryd teen die Waratahs is massief,” het Du Preez erken, maar ook gesê dat “dit dikwels goed is vir ’n span om op toer te gaan en weg van hul gemaksone spangees te bou”.

Die Haaie sal egter aan meer as net spangees moet bou.

Daar is min dinge wat ’n span bind soos juis karaktervolle verdediging, maar Vrydag was die Haaie se poreuse verdediging in die tweede minuut reeds weer ontbloot.

Die gemak waarmee Bryce Hegarty tussen Jacques Vermeulen en Coenie Oosthuizen deurgeglip het vir die eerste drie, en net so toe Samu Kerevi later vir sowel Robert du Preez as Aphelele Fassi afgestamp het in die aanloop tot Chris Feauai-Sautia en Tate McDermott se onderskeie drieë, is skokkend.

Du Preez het erken dat sy span weer ’n paar “sagte” drieë afgestaan het, maar het bygevoeg dat die poging effens beter was as teen die Jaguares, toe hulle sewe drieë gelek het.

Die ander kopseer is die hopelose hanteerwerk, wat nie net telkens omgekeerde besit vir die Reds besorg het nie, maar ook belowende aanvalle skipbreuk laat ly het – selfs ’n paar keer met ’n oop doellyn wat gewink het!

Du Preez het dié blapse toegeskryf aan ongeduld.

“Ons is nie geduldig genoeg met die bal in die hand nie.”

Die Haaie het nie net flaters met die bal in die hand gemaak nie, hulle het ook kritieke oordeelsfoute begaan.

By ’n paar geleenthede is strafskoppe binne trefafstand aan die Haaie toegeken, maar telkens is daar besluit om eerder vir die hoekie te skop, in die hoop dat die pak die bal oor die doellyn sou kon dryf.

Benewens Kerron van Vuuren se drie halfpad voor rustyd, het daar dadels van die ander pogings gekom om van lynstaan-rolmale af te gaan druk. Skoppe pale toe sou ’n groter verskil op die telbord gemaak het.

Soos hulle in krieket-terme sê, ’n mens moet eers aan ’n beurt bou voordat jy sesse probeer slaan.

  • Punte:

Haaie 14 (7): Drieë: Kerron van Vuuren, Dan du Preez. Doelskoppe: Robert du Preez (2).

Reds 21 (14): Drieë: Bryce Hegarty, Chris Feauai-Sautia, Tate McDermott. Doelskoppe: Hegarty (3).

Meer oor:  Reds  |  Haaie  |  Super-Wedstryd  |  Brad Thorn  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.