Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie: Thomas sal Ali in skrums in visier hê

Sean Everitt was Donderdag lugtig om dit te erken, maar om ’n WP-span sonder Steven Kitshoff in sy geledere aan te pak, is ’n veel makliker vooruitsig as wanneer dié Bok-loskopstut wel in die nr. 1-trui uitdraf.

Kitshoff se onbeskikbaarheid en die Haaie se luuksheid om vir die eerste keer in die Curriebeker-seisoen ’n volsterkte span te kon kies, sou van Everitt ’n tevrede afrigter maak aan die vooraand van die halfeindstryd op Nuweland.

Thomas du Toit, die Springbok-vaskopstut van die Haaie, sal Saterdag ’n sleutelspeler wees in hul Curriebeker-halfeindstryd teen die Westelike Provinsie. Foto: Gallo Images

Kitshoff is die WP se beste speler en Thomas du Toit, die Haaie-vaskop, sal sy plaasvervanger, Ali Vermaak, nou vol in sy visier hê.

Dit is by die skrums waar die Haaie sou voel die WP moontlik die oorhand kon kry. Terwyl die skitterende Bongi Mbonambi en Frans Malherbe steeds daar is, laat Kitshoff ’n groot leemte, maar Everitt was diplomaties toe hy hieroor uitgevra is.

“Die stryd by die vaste fasette gaan altyd oor die eenheid. Steven Kitshoff is waarskynlik een van die beste loskopstutte in die wêreld en sy spelpeil was onlangs uitstaande. Hy is fiks en het talle minute gespeel,” sê hy.

“Ali Vermaak is ook ’n goeie speler en hulle het steeds vir Frans Malherbe, Bongi, JD Schickerling en Salmaan Moerat en dit is ’n formidabele vaste vyf.

“Niemand is ooit bly as iemand siek is nie en ons sal dit vat soos dit kom. Daar is geen manier hoe hulle makliker teenstanders gaan wees nie, hulle bly ’n groot bedreiging.”

Wat sy eie vaste vyf betref, was Everitt bly hy kon Du Toit weer kies ná ’n tydperk langs die kantlyn.

“Hy het Covid-19-kwessies gehad en voor dit was hy beseer. Dit is goed om hom terug te hê.”

Die haker Fez Mbatha en slot JJ van der Mescht is beloon vir goeie vertonings teen Griekwas en Everitt glo hy het sy beste moontlike vaste vyf gekies.

Die Haaie sal stilweg selfvertroue hê en glo dat hulle in Kitshoff se afwesigheid die kitaar in die skrums kan slaan. As dít gebeur, kan Curwin Bosch die toutjies vanuit die losskakel-posisie trek.

Terwyl dit dalk nie ’n aanskoulike wedstryd gaan wees nie, sal die Haaie voel Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Yaw Penxe en Lukhanyo Am kan met teenaanvalle enige fout wat die WP begaan, genadeloos uitbuit.

“Dit gaan ook oor wat ná die vaste fasette kom en dít is waarom dit belangrik is om daar te oorheers, of minstens goed teen die teenstanders op te weeg,” sê Everitt.

“As jy ’n goeie skrum of lynstaan het, is dit makliker om oor die voordeellyn te kom van eerstefase-besit af. Daar is egter vele ander aspekte tot die spel, dit maak dit net makliker as jy ’n goeie grondslag het.”

Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Yaw Penxe, Curwin Bosch, Sanele Nohamba, Sikhumbuzo Notshe, Henco Venter, Dylan Richardson, Ruben van Heerden, JJ van der Mescht, Thomas du Toit, Fez Mbatha, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Dan Jooste, Mzamo Majola, Michael Kumbirai, Hyron Andrews, Thembelani Bholi, Jaden Hendrikse, Jeremy Ward, Manie Libbok.

Meer oor:  Sean Everitt  |  Thomas Du Toit  |  Haaie  |  Wp  |  Curriebeker-Halfeindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.