Selfs sonder heelwat grofgeskut in sy midde het die Haaie steeds genoeg skietgoed gehad om Griekwas ’n afgedankte loesing in Durban te gee.
Die Haaie het vier drieë ingeryg om die Poubloues Sondag met 35-10 in die voorbereidingsreeks te klop.

Toe Aphelele Fassi eers Sondag sy ritme in Durban gevind het, was daar geen keer aan hom nie. Foto: Gallo Images
Aanvanklik het die Durbaniete effens verroes voorgekom, voordat hulle in die tweede helfte behoorlik die krane oopgedraai het.
Die Haaie het vroeg in die wedstryd reeds lus gelyk vir hardloop, maar hulle skuldig gemaak aan hanteerfoute en gebrekkige samespel.
Boonop het hulle die bal ’n hele paar keer in die kontaksituasies afgestaan.
Die tuisspan het die bal gereeld deur die hande laat gaan, maar dan was daar ’n jakkals of twee in die wingerd. Soos toe die Durbaniete se heelagter, Aphelele Fassi, die bal aangeslaan het met ’n oop doellyn voor hom.
Griekwas was eerste op die telbord toe Gideon van der Merwe (flank) halfpad deur die eerste helfte weggebreek het by ’n losgemaal om te gaan druk.
George Whitehead het die doelskop oorgesit en kort daarna drie punte bygevoeg met ’n strafdoel. Dit het beteken dat die Poubloues met 10-0 voor was.
Maar kort voor die rustyd het alles verander toe die Haaie se vleuel Anthony Volmink gaan druk het nadat die tuisspan vir ’n wyle naby die Noord-Kapenaars se doellyn kamp opgeslaan het.
Straks die grootste tweestryd in die eerste helfte was in die skrum, waar Griekwas se losskopstut Mox Mxoli en Michael Kumbirai, die Haaie se vaskopstut, mekaar se gal gewerk het. Jy het tog die idee gekry dat Mxoli daardie veldslag gewen het.
In die tweede helfte het die Durbaniete ’n vars voorry opgestuur. Dit het veroorsaak dat die Poubloues in die skrum gesukkel het en die Haaie balbesit op die voorvoet gekry het.
Die uiteinde daarvan is voorspelbaar. Spelers soos Fassi, Werner Kok (vleuel) en Murray Koster (senter) het baljaar.
Om sake te vererger het Griekwas se skrumskakel, Stefan Ungerer, ’n geelkaart op die lyf geloop omdat hy ’n bal afgeklap het met die Haaie op die aanval. Boonop het die skeidsregter ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken. Dit het die telling in die 54ste minuut 14-10 in die Durbaniete se guns gemaak.
Daarna was daar geen twyfel oor die uitkoms nie. Die tempo van die KwaZulu-Natallers was net te hoog vir die Poubloues. Die tuisspan het die veld vol gehardloop, en die besoekers moes daarmee vrede maak dat hulle weer eens tekortskiet.
Om sake vir Griekwas te vererger is Tinus de Beer ook laat in die wedstryd koelkas toe gestuur.
• Puntemakers:
Haaie 35 (7): Drieë: Anthony Volmink, Strafdrie, Aphelele Fassi, Thaakir Abrahams, Jordan Chait. Doelskoppe: Manie Libbok (2), Chait (2).
Griekwas 10 (10): Drie: Gideon van der Merwe. Doelskop: George Whitehead. Strafdoel: Whitehead.