Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie ‘was nie akkuraat genoeg’

Dit was ’n poging wat die rooi ligte laat begin flikker, maar Sean Everitt, afrigter van die Haaie, sê dit is nie veel meer as ’n span wat nie sy plan goed uitgevoer het nie.

Dylan Richardson, haker van die Haaie, druk Saterdag op Loftus Versfeld die besoekers se enigste drie teen die Bulle. Foto: Gallo Images

Everitt sou nieteenstaande ’n bekommerde man gewees het toe hy Saterdagaand – nadat die Bulle sy span met 41-14 afgestof het – op die bus geklim het by Loftus Versfeld.

Hoewel die Haaie sterk geskrum het aan die begin en die jong haker Dylan Richardson die Bulle gepla het by die afbreekpunte, was dit van korte duur.

Die besoekers het later geen antwoord vir die Bulle se fisieke spel gehad nie en het vier drieë ná rustyd deurgelaat.

Ook is dit ooglopend dat Everitt nie genoeg diepte in die agttal het nie.

Toe die Springbok-stut Thomas du Toit die veld in die eerste helfte met ’n kuitbesering verlaat het, het die Bulle se oorheersing gestalte gekry.

“Dit was ’n groot slag om Thomas te verloor, veral wanneer jy op Loftus teen ’n enorme Bulle-pak speel.

“Dit is duidelik ons sal hard aan ons vaste fasette moet werk.”

Richardson, wat vanjaar die oorgang van flank na haker maak, was bedrewe op die grond, maar hy kon nie sy springers in die lynstane vind nie.

Geen span kan op dié vlak bekostig om vier, vyf ingooie verlore te laat gaan nie.

“Dit is ’n groot skuif van flank na haker vir Dylan in Superrugby.

“Daarmee saam sal tandekry-probleme kom. Hy het baie duikslae gemaak en drie keer besit omgekeer (by die afbreekpunte) in die eerste helfte.

“Dylan het baie talent en hy sal ’n beter speler wees ná vanaand.”

Everitt sê die Bulle het ook hul skoppe goed hanteer en dit het later druk op die Haaie se verdediging geplaas.

“Ons het eintlik goed verdedig aan die begin, maar ons het die Bulle toegelaat om ons te laat omdraai omdat ons skopwerk nie akkuraat was nie.

“Dit is nie dat ons vir die Bulle teruggestaan het of te veel respek betoon het nie.

“Hulle het ’n formidabele pak en ’n goeie plaasvervangersbank, wat die wedstryd op sy kop gekeer het.

“Ons was eenvoudig nie akkuraat genoeg met die plan wat ons gehad het nie.”

Die Haaie het ’n moeilike afspraak met die Pumas in die Laeveld Saterdag, nadat die Stormers Vrydagaand baie gelukkig was om nie as die verloorder in die Mbombela-stadion van die veld te stap nie.

Puntemakers

  • . Drieë: Stedman Gans (2), Marco van Staden (2), Marco Jansen van Vuren, Embrose Papier. Strafdoel: Morné Steyn. Doelskoppe: Steyn (4).
  • . Drie: Dylan Richardson. Strafdoele: Curwin Bosch (3).
Meer oor:  Haaie  |  Sean Everitt  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.