Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie weet grootste toets wag op Loftus
Die Haaie is tevrede met Siya Kolisi se bydraes. Foto: Gallo Images

Nou vir die grote!

Die Haaie het volpunte ná hul eerste twee wedstryde in die plaaslike Reënboogbeker-reeks nadat hulle die Leeus Saterdag met 34-26 in Durban geklop het. Die Bulle het ook twee seges ná twee wedstryde nadat hulle die Stormers in Kaapstad geklop het.

In rugbykringe gons dit dat dié twee spanne in die afsienbare toekoms die toonaangewers in Suid-Afrikaanse rugby kan wees. Nie net oor hul spel op die veld nie, maar ook weens finansiële vennote en goeie bestuur weg van die veld.

Nou meet dié twee spanne komende Saterdag op Loftus Versfeld kragte.

Sean Everitt, die Haaie se breier, weet dít is sy span se groot toets.

“Dit is goed om ná twee weke die maksimum punte te hê, maar die groot toets lê volgende week op Loftus voor,” het hy ná die oorwinning oor die Leeus gesê.

Hy weet daar is nog aspekte van die spel waaraan die Haaie moet skaaf.

Soms het ons opwindende rugby gespeel, wat goed was, maar die keersy is dat ons heeltemal te veel strafskoppe afgestaan het.
Sean Everitt

“Daar was positiewe en negatiewe punte in die wedstryd. Soms het ons opwindende rugby gespeel, wat goed was, maar die keersy is dat ons heeltemal te veel strafskoppe afgestaan het. Ons het verlede week 15 strafskoppe afgestaan en dié week 18,” sê Everitt.

“Dit het ons onder druk geplaas en ons kon nie momentum opbou nie. Dit is iets waaraan ons voortdurend moet werk en ons sal moet opskerp voordat ons na Loftus opruk.”

Hy wil egter ook op die positiewe aspekte fokus.

“Die ouens probeer baie hard om fases saam te flans op die aanval. Die ouens se veggees was ook uitstaande toe ons twee spelers in die koelkas gehad het. Die span se ywer kan nooit bevraagteken word nie,” sê hy.

“Ons was ook goed met hoe ons rolmaalbewegings gestuit het. Ons verdediging was ook goed. Dit was ’n beter vertoning as verlede week.”

Die senter Jeremy Ward druk een van die Haaie se drieë teen die Leeus. Foto: Gallo Images

Hy noem byvoorbeeld dat hulle verlede week in die eerste 20 minute van die eerste helfte drie lynstane verloor het.

“Dié week het ons niks verloor nie. Die skrums was ook goed, ons het strafskoppe daar afgedwing,” sê hy.

“Toe ons die reeks betree het, was daar kritiek oor ons vaste fasette, maar vanaand was dit baie goed.”

Everitt is ook tevrede met die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, se vordering.

“Sy bydraes word beter en beter. Sy kondisionering is ook reeds veel beter. Hy maak belangrike bydraes, al lyk dit dalk nie altyd vir die publiek so nie. Soos ’n keer dat hy die bal gedra en in kontak weg gekry het in die eerste helfte en hoe hy ouens by die losgemale skoonmaak. Dit maak van hom ’n moeilike teenstander om teen te speel.”

Meer oor:  Sean Everitt  |  Jeremy Ward  |  Siya Kolisi  |  Pretoria  |  Durban  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Haaie  |  Afrigter  |  Loftus  |  Rugby  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.