Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie wil bordjies verhang

Rugby gee jou darem altyd ’n tweede kans.

Dit is die uitkyk waarmee Thomas du Toit, Springbok-stut van die Haaie, sy span se ontmoeting met die Bulle Saterdagaand op Loftus Versfeld benader.

Die Haaie-stut Thomas du Toit die afgelope week op die oefenveld in die opbou tot Saterdag se wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Die Pretoriase span se onverwagse oorwinning van 49-28 oor die Haaie in ’n losmaker op Loftus verlede maand, is vandeesweek in albei kampe ’n groot besprekingspunt.

Kan die tuisspan Saterdag ’n soortgelyke vertoning lewer? In Haaie-geledere is daar vrae van rugbyskrywers oor hoe hulle ’n herhaling daarvan kan voorkom.

“Ons kry die kans om ons foute reg te stel die naweek. “Dit is tot ’n mate ’n sielkundige uitdaging, maar ons is opgewonde daaroor en sien uit na die nuwe uitdaging,” sê du Toit.

Die Haaie wil met oorgawe begin nadat hulle in die onlangse ontmoeting teen rustyd ’n lywige agterstand van 7-35 gehad het.

“Dit is iets wat ons geïdentifiseer het (as ’n leemte). Ons oefen hard die week en gee baie aandag daaraan.”

Wanneer jy teen die Bulle speel sal daar altyd ’n groot fokus op ons vaste fasette wees.

Du Toit glo die Haaie, wat vroeër die seisoen die Suid-Afrikaanse pasaangeër was voor die Superreeks vanweë die Covid-19-pandemie kortgeknip is, is naby daaraan om weer met dieselfde momentum te speel.

“Die (Haaie se) plan het nie verander nie en ek dink nie ons is iets kwyt nie. Ons het onsself so ’n bietjie in die steek gelaat die laaste ruk, maar ons is naby daaraan om weer op dieselfde peil te kom.”

Die vaste fasette is ’n ander groot fokuspunt, sê dié 25-jarige Bok van 12 toetse.

Hy, die jong Dylan Richardson en Ox Nche behoort in die voorry hul vennootskap voort te sit.

“Elke teenstander is anders en jy moet weekliks ’n paar verstellings maak ter voorbereiding vir die vaste fasette.

Ons is uiteindelik hier om rugby te speel, maak nie saak in watter kompetisie nie.

“Wanneer jy teen die Bulle speel sal daar altyd ’n groot fokus op ons vaste fasette wees. Ons weet dit is een van hul sterkpunte en ons is gereed vir daardie uitdaging.”

Die Haaie se loslootjie verlede naweek, in die tweede ronde van die kompetisie, het dalk in die lig hiervan op die regte tyd gekom, sê Du Toit.

“Die voorseisoen was nie maklik nie en ons het nie baie aftyd gehad nie.

“Dit was ’n welkome ruskans, hoewel dit nie ’n volle week was nie. Enige rugbyspeler sal dit verwelkom ná ’n intense voorseisoen.”

Du Toit sê dit is vir hom om’t ewe of hy oor die volgende paar weke in die Curriebekerreeks of in die Rugbykampioenskap sou speel.

Die Springbokke is verlede week aan die Rugbykampioenskap, wat van aanstaande maand in Australië beslis word, onttrek.

“Daar was voor- en nadele en ’n ou sal nooit weet wat al die redes is wat tot die besluit gelei het nie.

“Ons is uiteindelik hier om rugby te speel, maak nie saak in watter kompetisie nie.”

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby Unlocked  |  Thomas Du Toit  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.