Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie wurg Pumas, Sbu druk spogdrieë

Die Haaie wil drukrugby speel.

Hulle wil hul teenstanders met aggressiewe verdediging en hang- en veldaf-skoppe terugdwing. Dan wil hulle met hul blitsige agterlyn en goeie skakelspel tussen voor- en agterspelers toeslaan.

Curwin Bosch mik pale toe teen die Pumas. Foto: Gallo Images

Sonder die bal, wil hulle rugby in hul teenstanders se gesigte speel. Met die bal, wil hulle hê die verdedigers moet nooit gemaklik wees nie.

Vrydagaand het die Pumas onder die geweldige gewig van die Haaie se drukrugby geswig.

Die Haaie-kaptein, Jeremy Ward, se twee drieë in die eerste helfte van hul Curriebeker-oorwinning met 45-10 is ’n sprekende voorbeeld daarvan.

Ward het sy eerste drie gedruk nadat hy ’n Pumas-skop afgestorm het en sy tweede nadat hy ’n teenstander agter die Pumas se eie doellyn geplettervat het en op die bal geduik het.

Ná daardie drie, wat die telling ná 23 minute na 19-0 gerek het, was dit neusie verby met die Pumas, wat in die eerste 20 minute dapper weerstand teen die Haaie se makropak gebied het.

Daar is wyd voorspel die Pumas sou vir brekfis opgeëet word in die skrums, maar die Laevelders het hul man heel skaflik in dié gebied gestaan, veral in die eerste helfte. Hulle het selfs ’n paar skrumstrafskoppe afgedwing.

Die Haaie het egter later, na mate hul toegepaste druk die Pumas soos gif begin lamlê het, die oorhand in dié faset gekry (hoewel ’n paar oorheersende Haaie-skrums ook gestraf is).

Die Pumas het meegeding by die afbreekpunte, maar dit het die Haaie nie veel van stryk gebring nie. Die tuisspan wou rugby in die besoekers se helfte speel, en dít het hulle gedoen.

Curwin Bosch het sy voorspelers met goeie skopwerk die heeltyd vorentoe laat speel. Sy agttal het Bosch op hul beurt hiervoor met goeie voorvoetbal beloon.

Teen rustyd, met die Haaie 31-3 voor, was die wedstryd reeds verby.

Die Pumas se flank Phumzile Maqondwana het ’n drie vroeg in die tweede helfte gedruk, maar die Haaie se Springbok-vleuel, Sbu Nkosi, het onmiddellik teruggeslaan met uitstekende werk om die bal in die lug te bemeester van die afskop af, en deur te nael vir sy eerste drie.

Kort daarna het hy nóg ’n drie gedruk en lyk lus vir rugby. Dit was Nkosi se eerste bydrae nadat hy van ’n besering teruggekeer het. Hy was op die plaasvervangersbank, maar behoort eersdaags terug in die beginspan te wees.

Die jong JJ van der Mescht, wat as ’n eksperiment op steelkantflank ingespan is, het nie veel in dié nuwe posisie vermag om ’n mens te oortuig hy moet voltyds van slot na die lostrio skuif nie.

Die Haaie het effens stoom in die tweede helfte verloor, maar teen daardie tyd was al die Pumas se woema reeds uitgewurg. Dit is wat drukrugby doen.

Puntemakers: Haaie (31): Drieë: Jeremy Ward (2), Sanele Nohamba, Kerron van Vuuren, Dylan Richardson, Sbu Nkosi (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (5). Pumas (3): Drie: Phumzile Maqondwana. Doelskop: Ginter Smuts. Strafdoel: Smuts.

Meer oor:  Haaie  |  Durban  |  Pumas  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.