Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Habana: Sanzaar kan nie sonder SA

In Nieu-Seeland en Australië word daar toenemend gekla oor Suid-Afrika se deelname aan die Superrugby-reeks, maar dís ’n geval van stank vir dank, meen Bryan Habana.

Bryan Habana wil rugbyspelers help om hul kommersiële waarde te ontgin. Foto: Getty Images

“Ek dink Sanzaar het Suid-Afrikaanse rugby nodig om te oorleef gegewe die tydsones en TV-kykersgetalle, veral in die Noordelike Halfrond,” sê Habana, wat Suid-Afrika tussen 2004 en 2016 in 124 toetse verteenwoordig het.

“Dis baie makliker (vir die groot TV-gehoor in die Noordelike Halfrond) om wedstryde te kyk wat in Suid-Afrika gespeel word. Nie baie van hulle wil vroeg opstaan om te sien wat in Nieu-Seeland aangaan nie. Hulle sal waarskynlik net hoogtepunte kyk.”

Habana, Wêreldrugby se Speler van die Jaar in 2007, was aan die woord op die aanlyn bekendstelling van matchkit.co, ’n platform wat sportlui ’n geleentheid gun om hul persoonlike kommersiële handelsname uit te bou.

Vir die 36-jarige Habana is dit ook moeilik om te sien hoe Suid-Afrika se streekspanne in die Noordelike Halfrond se kompetisies sal inpas.

“Die welstand van spelers word veral in die Noordelike Halfrond voorop gestel. Toe ons destyds by Toulon die ‘dubbel’ (Franse Top14-liga en die Europese Kampioenebeker in 2014) gewen het, het van die spelers tot 43 wedstryde in die seisoen gespeel. Dit sal lol om nou nóg vier spanne van Suid-Afrika in te druk en ons by die Sesnasies-reeks ook te voeg,” sê Habana.

Spelers doen ervaring op in toestande waaraan hulle nie gewoond is nie.
Bryan Habana

Hy glo ook nie dat die standaard van rugby in die Noordelike Halfrond beter is as in die Suidelike Halfrond nie.

“Die kwessie van standaard is baie subjektief. As Suid-Afrika in die Noordelike Halfrond se skedule moet inpas, kan ek nie sien hoe ons spelers voordeel daaruit sal trek om in Desember, Januarie en Februarie in vyf grade benede vriespunt te speel nie,” sê Habana.

“Hoe meet jy standaard? Aan die aantal drieë wat aangeteken word of verdediging? Ek was gelukkig om in albei halfronde te kon speel. Die een is nie beter as die ander nie, en albei het hul voor- en nadele.”

Habana meen wel Suid-Afrika se spelers trek voordeel daaruit om hul horisonne by oorsese klubs te gaan verbreed.

“Spelers doen ervaring op in toestande waaraan hulle nie gewoond is nie. Hulle leer meer van hulself – nie net as spelers nie, maar potensieel ook as mense,” sê hy.

“In Frankryk moet jy by ’n ander kultuur aanpas en ’n nuwe taal omarm. Dit gee jou die geleentheid om as speler en mens te ontwikkel.”

* Intussen hoop Habana dat sy Matchkit-projek spelers kan help om hul bemarkbaarheid te verbeter. Dit behels die volgende:

* ’n Program wat spelers in staat stel om maklik ’n webtuiste te bou waar hulle blootstelling aan hulself en borge kan gee.

* Integrasie met sosialemedia-platforms.

* ’n Aanlyn winkel vir ondersteuners, met Matchkit wat sal help met versendings van goedere.

Matchkit is bekendgestel deur die sportagentskap Retroactive, waarvan Habana ’n medestigter is.

Meer oor:  Bryan Habana  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.