Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Habana sê Ioane gaan WB-rekord laat spat

Die oud-Bok Bryan Habana glo die All Black-vleuel Rieko Ioane gaan die rekord vir die meeste drieë by ’n Wêreldbeker-rugbytoernooi volgende jaar in Japan verpletter.

Rieko Ioane vroeër vanjaar in aksie teen Argentinië in die Rugbykampioenskap. Foto: Getty Images

Habana (35) en twee All Blacks, wyle Jonah Lomu en Julian Savea, is die gesamentlike houers van die rekord, nadat almal van hulle agt drieë in ’n toernooi gedruk het.

Lomu het agt keer oorgeduik by die toernooi in 1999 in Wallis, terwyl Habana dit in 2007 in Frankryk en Savea dit in 2015 in Engeland vermag het.

Sedert Ioane (21) sy buiging vir Nieu-Seeland in 2016 gemaak het, het hy reeds 22 drieë in 24 toetse opgestapel.

“Om eerlik te wees, dink ek dit is so bestem dat Rieko die rekord vir die meeste drieë in ’n enkele Wêreldbeker-toernooi sal oortref,” het Habana aan stuff.co.nz gesê.

“Hy het ’n ongelooflike treftempo en herinner my aan Julian Savea in 2015. Rieko het die geleentheid om die rekord te verbeter en rekords is tog mos daar om oortref te word.”

Ioane, wat sy buiging op 17-jarige ouderdom vir sy land se sewesspan gemaak het, het ook soos Habana die eerste keer die oog getref vir sy land se sewesspan.

In sy eerste toernooi vir die Kiwi’s se sewesspan in Hamilton in Nieu-Seeland het hy ses drieë gedruk, waarvan twee in die eindstryd was. Nieu-Seeland het Engeland in die eindstryd van daardie toernooi met 27-21 geklop.

Rieko het die geleentheid om die rekord te verbeter en rekords is tog mos daar om oortref te word.
Bryan Habana

Destyds het die Engelse se kaptein, Tom Mitchell, gesê hy het nie besef Ioane is slegs 17 jaar oud nie.

“Hy het beslis nie so jonk gelyk nie en is die sterkste 17-jarige wat ek nog teëgekom het. Hy is sonder twyfel talentvol en iemand wat in die toekoms dopgehou moet word.”

Volgens Habana kan die waarde van sewes nie misgekyk word nie.

“Sewes is ’n goeie platform vir spelers om hul loopbane in vyftienman-rugby te loods. In Nieu-Seeland is daar fantastiese strukture gevestig om jou talente goed in te span.”

Habana het in 124 toetse vir die Springbokke gespeel en die Blitsbokke in 2004 en 2016 verteenwoordig. 

Meer oor:  Sewesrugby  |  Bryan Habana  |  Rieko Ioane  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.