Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haden-tyding laat Burger aan vuishou dink

Die nuus vandeesweek van die voormalige All Black-slot Andy Haden se afsterwe, het Burger Geldenhuys onwillekeurig laat terugdink aan dáái vuishou van 34 jaar gelede.

Die flank Burger Geldenhuys was in sy speeldae een van die ystermanne van Suid-Afrikaanse rugby. Foto: Gallo Images

Dit was die dag op Loftus Versfeld wat Geldenhuys, toe ’n Springbok-flank van Noord-Transvaal, die All Black- en Kavaliers-kaptein in 1986, Andy Dalton, se kakebeen op twee plekke gebreek het met ’n voorhamer-vuishou van agter.

Dalton se toer was ná 37 minute van dié kragmeting met Noord-Transvaal iets van die verlede en dit het Geldenhuys summier sy plek in die toetsspan gekos.

Hy is as ’n lafaard bestempel en dr. Danie Craven, president van die voormalige Suid-Afrikaanse Rugbyraad, het Geldenhuys geskors sonder dat hy sy saak kon stel.

“Dit was Haden wat my gefoeter het by die losskrum.

“Ek het omgedraai en ongelukkig die verkeerde ou geslaan.

“Ek moes seker geweet het dit was Haden, want hy het oor sy skouer vir my geloer. Alles het egter so vinnig gebeur.”

Andy Dalton, haker en kaptein van die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986, word van die veld gehelp nadat Burger Geldenhuys sy kakebeen afgeslaan het. Foto: Gallo Images

Geldenhuys sê Haden het jare later in sy boek Lock, Stock ’n Barrel erken hy het tot die omstrede voorval aanleiding gegee.

“Natuurlik is ek spyt daaroor. Dit was ’n vuishou nadat ek ’n oomblik vantevore ook van agter af geslaan is.

“As ’n ou jou in daardie dae bygekom het, het jy hom ook geroer.

“Dit is darem nou nie dat ek bedoel het om Dalton se kakebeen af te slaan nie. Ek word daarvoor onthou, maar ek sal nie sê dit was die laagtepunt van my loopbaan nie.

“Ek sou wel baie graag in daardie toetse wou gespeel het, want dit was ’n baie goeie Bokspan daardie.

“Onthou dit was ’n tyd wat daar nie elke jaar toetse was nie.”

Die Springbokke het die reeks van vier toetse met 3-1 teen die Kavaliers gewen.

Ek het omgedraai en ongelukkig die verkeerde ou geslaan.

“Dalk moes ek destyds Kaapstad toe gevlieg het en dok. (Danie) Craven in sy kantoor om verskoning gaan vra het.

“Hy het my sonder ’n verhoor geskors en dit het seker nie veel gehelp dat ek vir Noord-Transvaal gespeel het nie.

“As ek vir Maties en die Westelike Provinsie gespeel het, was dit dalk ’n ander saak.

“Gert Smal het in die toets op Ellispark vir Gary Knight oop en bloot met die vuis geslaan, maar daarvan het niks gekom nie.

“Dit is seker omdat Gert vir die regte span (die WP) gespeel het,” skerts Geldenhuys.

• Die Kavaliers het Noord-Transvaal op 26 April 1986 met 10-9 geklop nadat ’n strafdoel van Naas Botha, die Ligbloues se losskakel, in beseringstyd die regoppaal getref het.


Meer oor:  Burger Geldenhuys  |  Andy Haden  |  Gert Smal  |  Blacks  |  Nieu-Seeland Kavaliers  |  Noord-Transvaal  |  All  |  Toetsrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.