Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haker, hou jou by jou lees, hoor WP

Daar is min dinge so lelik soos ’n ondeurdagte gesool van ’n rugbybal en die Westelike Provinsie sal móét ophou om sulke goeie werk daarvan te maak indien hy die Pumas in Vrydag se Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland wil klop.

Daar was ’n handvol sondaars in streeptruie in die nederlaag van 28-30 teen die Goue Leeus en die WP se afrigter, John Dobson, het veral vir Scarra Ntubeni laat verstaan dat hy eerder maar aan sy vaardighede as ’n haker moet slyp as om die stewel in te lê.

Die WP-haker Scarra Ntubeni sal selfs dieper in die sop wees indien hy Vrydag teen die Pumas grondskoppies soos dié een teen die Goue Leeus probeer uitvoer. Foto: Gallo Images

“Scarra betaal steeds vir sy grondskoppie. Dit sal nooit vergeet word nie,” het Dobson vandeesweek geskerts oor Ntubeni se besluit om eerder nie die bal na ’n spanmaat aan te gee nie om ’n drie te kan afrond.

Ntubeni se straf was nie bloot net om ’n paar vinnige biere te moet afsluk nie.

“Ek dink nie hy sal dit as ’n straf beskou nie!” sê Dobson.

“Hy moes net baie sweet oor daardie skoppie. Ons het dit in die spankamer uit elke kamerahoek gewys. Hy het gesê daar was iemand tussen hom en Sergeal Petersen, toe wys ons hom beeldmateriaal van bo af.”

Ntubeni is egter net die meeste geterg omdat hy ’n voorspeler is. Ongeduldige skoppies deur vleuels op die aanval – wanneer dit beter sou wees om die bal net deur nóg ’n paar fases doellyn toe te neem – is ook taboe.

Dobson se ander groot bekommernis was dat sy span die fisieke stryd teen ’n jonger Leeu-span verloor het – iets wat reggestel gaan moet word teen die Pumas.

“Die fisieke aspek was die afgelope week ons grootste fokus. Ons sessies was baie taai,” sê hy.

Tradisioneel sukkel die WP nie op Nuweland teen die Pumas nie, maar die besoekers ruik dalk bloed en hulle gaan met baie selfvertroue toegerus wees ná hul oorwinning oor die Haaie die afgelope naweek.

Om wankelrig te wen gaan vir die WP nie goed genoeg wees nie, want dis belangrik om vertroue in te boesem vir wat aanstaande week ’n klipharde stryd teen Griekwas in Kimberley gaan wees. Daarna wag daar nog ’n wedstryd teen ’n Pro14-span, die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein.

Dis ’n pad vol duwweltjies wat die Streeptruie self gestrooi het met hul nederlae teen die Haaie en Leeus.

“Dis frustrerend dat ons onderpresteer, maar as ons 15 ligapunte uit ons volgende drie wedstryde insamel, sal ons baie goed geposisioneer wees. Ek’s oortuig ons is nou weer op die regte pad,” sê Dobson.

Spanne

Westelike Provinsie: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Dan Kriel, Seabelo Senatla, Josh Stander, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi, JD Schickerling, Chris van Zyl (k), Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, Salmaan Moerat, Nama Xaba, Jean-Luc du Plessis, Edwill van der Merwe.

Pumas: Devon Williams, Morné Joubert, Ryan Nell (k), Alwayno Visagie, Etienne Taljaard, Chris Smith, Ashlon Davids, Jeandré Rudolph, Willie Engelbrecht, Francois Kleinhans, Stefan Willemse, Le Roux Roets, Marné Coetzee, Marko Janse van Rensburg, Andrew Beerwinkel. PLAASVERVANGERS: Simon Westraadt, De-Jay Terblanche, Hilton Lobberts, Phumzile Maqondwana, Ginter Smuts, Kobus Marais, Ruwellyn Isbell, Morgan Naude.

  • Skeidsregter: AJ Jacobs
  • Assistent-skeidsregters: Paul Mente en Aimee Barrett-Theron
  • TV-skeidsregter: Joey Klaaste-Salmans
  • Afskop: 15:00


Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Pumas  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.