Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Handré pak sy tasse, Morné weer 'n Bul

Dit is amptelik: Handré Pollard is op pad Frankryk toe en Morné Steyn is weer ’n Bul.

Die Bul-kaptein, Handré Pollard, speel van sy laaste wedstryde vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Pollard sal ná afloop van vanjaar se Wêreldbekertoernooi een van die hoogs betaalde spelers in die spel word wanneer hy by Montpellier aan die Franse suidkus aansluit.

Steyn, voormalige Bul-losskakel wat sedert 2013 vir die Franse klub Stade Français speel, het intussen Maandagaand ’n kontrak van twee jaar met die Blou Bulle Maatskappy (BBM) gesluit.

Alfons Meyer, die BBM se uitvoerende hoof, sê hulle weet al ’n geruime tyd dat Pollard vir die Bulle verlore is.

“Dit is een van daardie dinge. Ons het werklik ons bes probeer om hom hier te hou, maar daar ons geen kans om met die pond en euro mee te ding nie.”

Netwerk24 het onlangs onthul dat Pollard se vergoedingspakket sowat R20 miljoen per seisoen by Montpellier sal beloop.

Met die Wallaby Israel Folau wat op die punt is om sy kontrak (van Rugby Australië en die Waratahs) van tussen R21 miljoen en R22 miljoen per jaar te verloor, kan Pollard straks boaan dié lys wees.

Meyer sê hulle is verheug om die 34-jarige Steyn terug te lok Loftus Versfeld toe.

Steyn was ’n lid van die Bulle se span wat die Superreeks drie keer verower het en hy is ook ’n veteraan van 66 toetse vir Suid-Afrika.

“Selfs Rassie (Erasmus, die Springbok-afrigter) dink dit is ’n goeie kopie. Met Handré wat Frankryk toe gaan, is Manie Libbok die enigste losskakel wat in ons groep oorbly.

“Morné is baie ervare en hy kan ’n uitstekende mentor vir Manie wees. Hulle is twee losskakels met uiteenlopende sterkpunte,” sê Meyer.

Morné Steyn is weer ’n Bul. Foto: Getty Images

Dié bevestiging beteken dat die Bulle van 2020 sonder Pollard, Lood de Jager en Jesse Kriel sal wees.

De Jager het ’n kontrak met die Sale Sharks in Engeland gesluit en Kriel met die Canon Eagles in Japan.

Meyer het ook bevestig dat RG Snyman, nog ’n Bok-slot, ’n kontrak van een jaar met die Japanse klub Honda Heat gesluit het en nie aanstaande jaar in die Superreeks vir die Bulle sal uitdraf nie.

Meyer sê die BBM beplan om ’n soortgelyke kontrak met Snyman te sluit as wat die All Blacks onlangs met Sam Whitelock gedoen het. Whitelock het op ’n nuwe kontrak van vier jaar met Nieu-Seeland Rugby (NZR) ooreengekom, maar op die voorwaarde dat hy volgende jaar die Superreeks kan misloop om vir Panasonic in Japan beskikbaar te wees.

“Die aanbod is in wording en ons is vol vertroue dat RG in 2021 sal terugkeer. Dit hang ook daarvan af of die Superreeks en die Japanse liga ook in 2021 gaan oorvleuel, maar ons is nietemin optimisties dat RG sal terugkeer.”

Die Bulle se ander Springbok-slot, Jason Jenkins, het egter ’n langtermynkontrak van twee jaar met Toyota Verblitz gesluit.

Meer oor:  Morné Steyn  |  Handré Pollard  |  Montpellier  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.