Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hane gewoond aan ‘onwettig skrum’

Toetsrugby is ’n moeilike aanpassing vir Franse spelers, omdat die skeidsregters in hul Top14-liga dikwels ontoelaatbare spel toelaat, sê CJ van der Linde, ’n oud-voorryman van die Bokke.

Die Bokke berei Donderdag voor vir Saterdag se toets teen Frankryk. Foto: Gallo Images

Die 38-jarige Van der Linde, wat die Bokke in 75 toetse verteenwoordig het, was tot in Junie 2017 die Franse klubspan Montpellier se skrumafrigter.

“Die Franse pak is altyd gedug, maar in die Top14 (Frankryk se vernaamste klubkompetisie) blaas hulle anders. Dit is ’n groot aanpassing vir hulle, omdat hulle gewoond is daaraan om onwettig te skrum.”

Volgens hom het die Springbokke, wat Saterdagaand in Parys teen die Hane te staan kom, nie dieselfde probleem nie.

Van der Linde is onlangs as Griekwas se voorspelerbreier vir die nuwe seisoen aangestel en vertrek binnekort na Japan om die voormalige Bok-afrigter Allister Coetzee se span, die Canon Eagles, as skrumkonsultant by te staan.

Van der Linde is vol lof vir die Bok-voorry (Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe) se vertoning teen Engeland op Twickenham.

CJ van der Linde het 75 toetse vir die Bokke gespeel. Foto: Gallo Images

“Ons het regtig goed teen Engeland geskrum, almal dink Wilco (Louw, plaasvervanger-vaskopstut) het ’n keer of wat swaargekry, maar ek dink dit was eintlik Thomas (du Toit, plaasvervanger-loskopstut). Die enigste rede is maar net omdat hy nou daaraan gewoond is om op vaskopstut te sak,” sê Van der Linde.

Die toets teen Engeland was die eerste keer vanjaar dat Du Toit op loskopstut gesak het.

“Rabah Slimani (wat op die Hane se plaasvervangerbank vir Saterdag gekies is) is nie ’n slegte vaskop nie, maar ek dink ons kan hul loskoppe Saterdag teiken,” sê Van der Linde.

Hy sê hoewel die Franse onder Jacques Brunel, wat verlede jaar die leisels as breier by die Hane oorgeneem het, verbeter het, voorspel hy dat die Bokke sal wen.

“Die Bokke is vir seker op pad boontoe, onder Brunel is Frankryk wel beter georganiseerd as onder Guy Novès (die vorige afrigter). Almal meet ons aan ons vertonings teen die All Blacks, dus dink ek nie die nederlaag teen Engeland maak ons skielik sleg nie.

“Die toets teen die Engelse het dalk net gewys dat sommige tweedekeuse-spelers nie op dieselfde standaard as eerstekeuse-spelers is nie. Maar Rassie (Erasmus, die Bokafrigter) weet dit,” sê Van der Linde.

* Nigel Owens van Wallis dra die fluitjie in Saterdag se toets in die Franse hoofstad.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Hane  |  Cj Van Der Linde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.