Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Argentyne verloor, Hane kán kraai!

Frankryk en Argentinië was gister in ’n behoorlike wedstryd van twee helftes gewikkel met die Hane wat hul eerste Wêreldbeker-groepwedstryd naelskraap met 23-21 beklink het.

’n Skepdoel in die doodsnikke deur hul plaasvervanger-losskakel, Camille Lopez, het die knoop in die Tokio-stadion vir sy span deurgehak, maar ook dié wedstryd het ’n ’n goeie dosis omstredenheid opgelewer.

Argentinië se heelagter, Emiliano Boffelli, het die kans gehad om sy span met enkele minute oor met ’n strafdoel voor te kry, maar sy skop pale toe was mis.

Emiliano Boffelli, heelagter van Argentinië, en Frankryk se Damian Penaud ding mee om ’n hoë bal in hul Wêreldbeker-kragmeting gisteroggend in Tokio. Foto: Getty Images

Soos Frankryk ook vir ’n vale verdedig het met sekondes oor, het hulle pal onkant gestaan, maar dit is misgekyk deur die skeidsregter, Angus Gardner.

As hy dit raakgesien het, sou dit ’n strafskop binne trefafstand vir die Suid-Amerikaners beteken het, wat hulle moontlik ’n oorwinning sou besorg het.

Ná die wedstryd het Mario Ledesma, afrigter van die Poemas, gemor oor veral daardie laaste bewegings waar hy gevoel het sy span moes ’n strafskop gekry het weens die onkantspel van die Hane.

Tog kan die Franse in hul noppies voel met die oorwinning in groep C – die sogenaamde groep van die dood – waarin Engeland hulle ook bevind.

Dit was ’n uiters belangrike wen wat die Hane vroeg die voordeel gee om deur te dring tot die kwarteindronde.

Frankryk het in die eerste helfte oorheers en die Argentyne met opwindende hardlooprugby van hul voete af gespeel.

Hul hardlooplyne en die manier waarop hulle die bal uitgegee het om ’n spanmaat in ’n gaping te plaas, was uiters aanskoulik en doeltreffend.

Veral die Franse senter Gael Fickou het ’n puik drie gedruk toe sy sentermaat Virimi Vakatawa goeie voetwerk gewys het in die aanloop tot Fickou se drie.

Drie minute later het die skrumskakel, Antoine Dupont, gaan druk ná goeie samespel deur Maxime Medard, die Franse heelagter, en die regtervleuel, Damian Penaud.

Die 20-jarige Franse losskakel, Romain Ntamack, was ook koelkop met sy stelskopwerk en het op die aanval ook goed gelyk.

Met ’n voorsprong van 20-3 teen rustyd het dit gelyk of Frank­ryk dié tweestryd in die sakkie gehad het.

Die Poemas se gees was egter nie gedemp nie en hulle het stadig maar seker in die tweede 40 minute die Hane se stertvere begin pluk.

Twee drieë deur Guido Petti en Julian Montoya met Petti se drie wat deur Nicolas Sanchez verdoel is en twee strafdoele vanaf die skopvoet van die plaasvervanger-losskakel, Benjamin Urdapiletta, het die Argentyne weer voor op die telbord gekry.

Lopez se skepdoel, wat hy komkommerkoel uitgevoer het, het die voortou in die 69ste minuut weer aan die Franse besorg.

Bofelli se verbroude strafdoelpoging kort voor die eindfluitjie het nie die Poemas se vuur geblus nie. Hulle het steeds aangeval opsoek na die wenpunte.

Die Hane se verdediging het egter goed gehou vir die oorwinning.

Guilhem Guirado, kaptein van Frankryk, het agterna gebieg dat hy gedink het dis neusie verby vir hulle toe Argentinië die strafskop in die doodsnikke kry.

“Sjoe, ek is bly ons kon die kompetisie met ’n oorwinning begin. Dit was ’n klipharde wedstryd,” het hy met ’n tevrede glimlag gesê.

“Ons was klinies in die eerste helfte en as ons só speel, is ons ’n gevaarlike span. Maar ons kon net nie die balbesit beheer in die tweede helfte nie.”

Pablo Matera, kaptein van die Poemas, het gesê hulle was net nie goed genoeg nie.

“Ons het ’n baie swak begin gehad. Frankryk het nie te veel gedoen nie, maar hulle het hul geleenthede benut.”

Meer oor:  Argentinië  |  Frankryk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.