Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hane klop gelapte Skotte in Sesnasies

Jy kon die sugte van verligting dwarsdeur Franse rugby hoor – die Hane het weer ’n slag gewen en, hoewel dit gans te vroeg is om van ’n Renaissance in Parys te praat, was daar genoeg flair, vuur en verbeelding in hul oorwinning met 27-10 dat daar hoop is vir die toekoms.

Yoann Huget, vleuel van Frankryk, duik oor vir sy drie. Foto: Getty Images

’n Gelapte Skotland is sweerlik nie die strafste toets denkbaar nie, maar die besoekers is meestal oordonder deur die gasheer, wat met ’n klomp jongelinge aan boord ’n keer of drie kwaai druk gesluk het of dit sjampanje was.

Skotland is kwaai lamgelê weens beserings van hul sterre Finn Russell, Huw Jones en Stuart Hogg. Peter Horne was op losskakel ’n bra power plaasvervanging vir Russell en die arme Nick Grigg, wat Jones op buitesenter vervang het, het ’n nare agtermiddag teenoor die Fransman Mathieu Bastareaud belewe.

Bastareaud lyk deesdae soos ’n wafferse stut en dit het klokslag ’n stuk of drie, vier Skotte geverg om hom tot stilstand te dwing. Hy was ’n knaende doring in Skotse vlees en het ’n yslike aandeel gehad in een van die beste drieë tot dusver die seisoen.

Dié drie, net ná rustyd, het die telling 15-3 gemaak en was die begin van die einde – en dis gedruk sonder dat Skotland aan die bal kon raak ná die afskop!

Van die losgemaal in hul eie kwartgebied het die haker en kaptein, Guilhem Guirado, losgebars en gedryf voordat die puik jong skrumskakel, Antoine Dupont, veel verder eers deur die dekverdediging beetgekry is.

Bastareaud het van die herwonne losbal ’n hangskoppie vir homself oor Grigg se kop gegee, bemeester en twee derdes van die Skotse dekverdediging ingesuig voordat Yoann Huget ’n paar aangeë later in die hoekie oor is.

Hul eerste drie, deur Romain Ntamack, het ook uit hul eie kwartgebied gekom – dié ene ná ’n lieflike teenaanval van die jong heelagter, Thomas Ramos.

Ramos, Ntamack en Dupont is ingesluit om ’n bietjie jeug en vernuf aan verrigtinge te bring en hul beleërde afrigter, Jacques Brunel, sou in sy noppies gewees het met sy proefneming. Ramos het veel meer goed as sleg gedoen en die jong skakelpaar het een van die beste vertonings in ’n lang tyd in Franse truie opgedis.

Of losskakel wel Ntamack se beste posisie is eerder as senter, sal seker teen beter teenstanders vasgestel word, maar Saterdag was hy op sy kop. Dupont is een van daai skrumskakels met alles – ’n vinnige diens, ’n goeie voet, ’n venynige breekslag en goeie oordeel. ’n Mens sou wou voorspel dat ons nog baie van hom op die toetstoneel sal sien, maar met die Franse weet ’n mens nooit.

Om die oorwinning deeglik in te vryf, het Frankryk in die laaste 10 minute nóg twee drieë vir ’n bonuspunt gaan druk, sulke regte outydse voorspelerdrieë deur die plaasvervanger-flank Gregory Aldritt.

Dit was gepaste beloning, want al die skouspel is eerstens moontlik gemaak deur knaende inklim voorlangs van ysters soos Louis Picamoles en die jonger garde Félix Lambey, Demba Bamba en Arthur Iturria.

’n Goeie Wêreldbeker-veldtog lyk skielik veel moontliker.

Puntemakers: Frankryk 29 (10): Drieë: Gregory Aldritt (2), Romain Ntamack, Yoann Huget. Doelskoppe: Thomas Ramos. Strafdoel: Ramos. Skotland 10 (3): Drie: Ali Price. Doelskop: Adam Hastings. Strafdoel: Greig Laidlaw.

Meer oor:  Frankryk  |  Skotland  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.