Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hane se B-span vee Azzuri uit die pad

Frankryk het Saterdagaand vir Italië met 36-5 geklop in die Nasiesbeker-reeks se groep B met ’n bisarre eindstryd teen Engeland wat nou volgende naweek wag.

Gabin Villiere van Frankryk. Foto: Getty Images

Nadat die unie en die liga ’n ooreenkoms bereik het, moes Fabien Galthie, die Hane se breier, 13 veranderinge aan sy sogenaamde A-span aanbring én dieselfde spelers sal in hul volgende wedstryd teen die Rose by Twickenham moet uitdraf.

Les Bleus kon nietemin by die Stade de France hul doel bereik ten spyte van ’n sukkelbegin tot die stryd. Hulle het eindelik vyf drieë deur Jonathan Danty, Gabin Villiere, Baptiste Serin, Teddy Thomas en Sekou Macalou ingeryg, met die skopskoene van Matthieu Jalibert en Louis Carbonel wat die ander punte bygedra het.

Italië se enigste punte het gekom deur ’n drie van Carlo Canna met Frankryk en Skotland wat onderskeidelik die eerste en tweede plekke op die punteleer ingeneem het.

Die Azzurri sal na alle waarskynlikheid volgende teen Wallis te staan kom, tensy Georgië ’n bonuspunt-sege oor Ierland kan behaal of ’n merkwaardige punteverskil uitwis in hul kragmeting in Groep-A wat Sondag beslis word.

Galthie het gesê dat Frankryk moet aanpas by omstandighede terwyl die span probeer om weer ’n gevreesde eenheid in wêreldrugby te word.

“Ons het ’n stelsel wat baie veeleisend van spelers is. Ons doelwit is om steeds vinnig met goeie vertonings vorendag te kom in konteks wat nie altyd maklik is om te hanteer nie, met instellings wat nie altyd ooreenstem nie,” het hy tydens ’n nuuskonferensie gesê.

“Ons is tevrede met vanaand (Saterdagaand) se oorwinning, met vyf drieë. Nou verskuif ons fokus na volgende week se wedstryd teen ’n Engelse span wat volsterkte gaan wees.”

Met vyf spelers wat hul buigings gemaak het en net twee wat verlede week deel was van die span wat vir Skotland getroef het, het die Hane tekort geskiet wat ritme of dissipline betref.

Canna het deur die verdediging gebars om Italië die voortou te laat neem nadat Jalibert met ’n strafdoel die Hane se telbord aan die rol gekry het.

Les Bleus het kort voor rustyd hul neuse weer voor gekry toe Danty afgerond het.

Jalibert het verdoel om vir Frankryk met 10-5 te laat voorloop met die omdraaislag.

Die Franse het toe drie drieë in nege minute gedruk tussen die 55ste en 63ste minute.

Italië moes boonop toe met 14 spelers klaarkom toe Jacopo Trulla koelkas toe gestuur is vir ’n gevaarlike plettervat.

Met die spelers wat net toegelaat word om ingesluit te word op drie spanlyste vir die jaareindtoetse, sal Frankryk sonder spelers soos die skrumskakel Antoine Dupont, asook die kaptein Charles Ollivon by Twickenham uitdraf. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Fabien Galthie  |  Engeland  |  Frankryk  |  Nasiesbeker-Reeks  |  Italië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.