Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hane soek bestendigheid, nie wraak
Romaine Ntamack, die Franse losskakel, tel onder die spelers wat baat by die Suid-Afrikaanse skopafrigter Vlok Cilliers se afrigting by die Hane. Foto: Getty Images

Bestendigheid is nou die wagwoord in Franse rugby, met die Hane se afrigtingspan wat als in sy vermoë doen om daardie alewig ontwykende doelwit te bereik.

Dáárom is daar ’n toekomsgerigtheid onder die Hane eerder as wat Saterdag se Sesnasies-kragmeting in Cardiff as ’n kans op vergelding beskou word vir hul hartverskeurende nederlaag teen Wallis in die 2019 Wêreldbeker-toernooi.

Wallis het daardie wedstryd met 20-19 gewen nadat hulle vroeg in die eerste helfte met 0-12 en deur die loop van die tweede helfte met 10-19 agter was.

’n Rooikaart teen die Franse slot Sébastien Vahaamahina vir ’n onbesonne daad in ’n losgemaal het uiteindelik die skaal in Wallis se guns help swaai.

“Daar is vandeesweek niks oor die Wêreldbeker-toernooi gesê nie. Ons fokus was hoofsaaklik op wat ons beter wil doen en waar ons ná ons eerste wegwedstryd wil wees,” sê Vlok Cilliers, die Suid-Afrikaanse skopafrigter in die Franse kamp.

Dis nie net hul eerste wegwedstryd in vanjaar se Sesnasies-reeks nie, maar ook die eerste van Fabien Galthié se era as hoofafrigter.

Sy toekomsgerigtheid blyk duidelik uit die span wat hy gekies het, met die 15 spelers wat begin wat gesamentlik nog net 234 toetse gespeel het. Op hul beurt deel die Walliese opdrafspan die ervaring van 859 toetse – ’n Sesnasies-rekord.

Die Drake sal op hul tuisveld uiteraard die gunsteling wees, maar die Franse se sterte is in die lug nadat hulle Engeland en daarna ook vir Italië in Parys verslaan het.

“Die sege oor Engeland het baie selfvertroue gekweek onder die spelers. ’n Jong Franse span het ’n baie ervare en sterk Engelse span geklop. Dit was sielkundig ’n groot oorwinning. Jy kon die week daarna in ons oefensessies groter selfvertroue bespeur,” sê Cilliers.

Vlok Cilliers saam met die Franse skakelpaar, Antoine Dupont (skrumskakel) en Romaine Ntamack (losskakel).

Om daardie selfvertroue op lang termyn te kweek sodat dit as bestendigheid manifesteer, is die volgende stap.

“Ons almal ken die Franse. Hulle kan die een week briljante rugby speel en dan lyk hulle die volgende week middelmatig,” sê Cilliers.

“Daar word groot klem gelê op bestendigheid. Dit gaan ’n lang en steil pad wees, maar jy moet êrens begin en daardie taal begin praat om meer bestendig te wees en meer wegwedstryde te wen.”

Ten einde daardie doelwit te bereik, het Galthié vir hom ’n paar gesiene luitenante aangestel. Behalwe vir Cilliers, is daar ook die voormalige Walliese verdedigingsafrigter Shaun Edwards.

“Ek het deur die jare van afrigting met verskillende verdedigingsafrigters te doen gekry en ek dink hy en Jacques Nienaber is die bestes ter wêreld. Ek het die laaste paar weke dinge by Shaun geleer wat ek nooit na gekyk of oor gedink het nie,” sê Cilliers.

“Hy speel ’n groot rol binne spanverband en skep selfvertroue.”

Onder die spelers voorspel Cilliers groot dinge vir die skakelpaar wat Saterdag teen Wallis diens doen, Antoine Dupont (skrumskakel) en Romaine Ntamack (losskakel).

Die spelbreker Virimi Vakatawa is ook terug in die middelveld nadat hy die wedstryd teen Italië met ’n armbesering misgeloop het.

Dit gaan gewis ’n taai stryd wees vir die Franse, maar Cilliers sê hulle het ’n goeie week se voorbereiding agter die rug en is “baie positief”.

“Ons weet Wallis is baie sterk en verloor selde in Cardiff, maar ons het ons huiswerk gedoen. Enigiets kan op die dag gebeur,” sê hy.

Afskop: 18:45 (SS 6).

* Twickenham gaan Sondag ’n drukkoker wees wanneer Engeland vir Ierland gasheer speel. Met dié dat die tuisspan reeds teen Frankryk verloor het in vanjaar se reeks, is die druk groot op die Engelse om hul titelkanse lewend te hou.

Wen die Rose egter teen die onoorwonne Iere en Wallis reken met Frankryk af, is die kompetisie weer wawyd oop.

Afskop Sondag: 17:00 (SS 1).

* In Saterdag se ander wedstryd pak die agterosse, Italië en Skotland, mekaar in Rome. Skotland is die gunsteling en sterk genoeg om in sy wedstryde hierna dalk nog Frankryk of Wallis se kaarte deurmekaar te krap.

Afskop: 16:15 (SS 6).


Meer oor:  Vlok Cilliers  |  Sesnasies  |  Frankryk  |  Wallis  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.