Twee Franse rugbyspelers wat die Hane se bestuur gekritiseer het ná die span se nederlaag twee weke gelede teen Engeland, is hul plek in die span kwyt.

Morgan Parra, skrumskakel van Frankryk, laat die bal loop teen Engeland. Foto: Getty Images
Frankryk se afrigter, Jacques Brunel, het Morgan Parra (skrumskakel) en Camille Lopez (losskakel), uit die span gelaat vir die Hane se Sesnasies-wedstryd teen Skotland Saterdag in Parys.
Tog ontken Brunel dat hulle oor die hoof gesien is vir hul kritiek ná Engeland se sege van 44-8 – ’n vertoning waar die Hane duidelik die kluts heeltemal kwyt was.
“Ek vertel julle, dit is nie die geval nie. Vra hulle en hul spanmaats. Gegewe ons vertoning (teen Engeland) moes ons dinge verander, dit is ’n besluit in belang van die span,” het Brunel sy besluit aan verslaggewers verduidelik.
Parra en Lopez word vervang deur Antoine Dupont (22) en Romain Ntamack (19), wat vir Toulouse speel.
Ntamack, wat teen Wallis senter gespeel het, draf selde vir sy klub in die nr. 10-trui uit.

Finn Russell gaan weens harsingskudding die wedstryd teen Frankryk misloop. Foto: Getty Images
In die ander veranderinge skuif Yoann Huget van heelagter na vleuel, met Gael Fickou wat van vleuel na senter skuif.
Thomas Ramos sal die laaste vesting beman en ook die skopwerk behartig. Maar Brunel sê hy voer nie die jongeling vir die wolwe nie. Hy het egter bygevoeg dat die Skotte straks vol selfvertroue na Frankryk sal opruk.
In dieselfde asem het hy egter ’n beroep op sy spelers gedoen om hul ware kleure te wys.
“Ons moet dinge omdraai en wys waartoe Frankryk regtig in staat is.”
Die laaste keer wat Skotland daarin kon slaag om die Hane in hul agterplaas te klop, was in 1999, toe hy met 36-22 baas was in die destydse Vyfnasies-reeks.
Nou moet die Skotte die Franse nog boonop sonder hul losskakel, Finn Russell, aandurf, wat met harsingskudding sukkel. Russell het dié besering opgedoen toe hy Sondag vir sy Franse klub, Racing 92, gespeel het. – Reuters
Frankryk
Thomas Ramos, Damian Penaud, Mathieu Bastareaud, Gael Fickou, Yoann Huget, Romain Ntamack, Antoine Dupont, Louis Picamoles, Arthur Iturria, Wenceslas Lauret, Felix Lambey, Sebastien Vahaamahina, Demba Bamba, Guilhem Guirado (k), Jefferson Poirot PLAASVERVANGERS: Camille Chat, Etienne Falgoux, Dorian Aldegheri, Paul Willemse, Gregory Alldritt, Baptiste Serin, Anthony Belleau, Maxime Medard.