Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Blacks kan druk hanteer, maar die res?

Steve Hansen, hoofafrigter van die All Blacks, sê die grootste aanspraakmakers in die komende Wêreldbeker (WB)-rugbytoernooi in Japan is dalk selfs onder meer druk as wat sy span is.

Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, sê die potensiële WB-aanspraakmakers in Japan sal almal die druk van hoë verwagtinge ervaar. Hy glo sy span sal dit egter die beste kan hanteer omdat hulle deurlopend daaronder verkeer. Foto: Getty Images

Die All Blacks maak jag op hul vierde Webb Ellis-trofee, wat ook hul derde opeenvolgende een sal wees.

Kenners glo die negende weergawe van dié toernooi kan egter deur enige van ses of sewe spanne gewen word.

Benewens Nieu-Seeland is die Sesnasies-kampioen, Wallis, asook Engeland, Suid-Afrika en Ierland almal spanne wat ook ’n realistiese kans het, terwyl Australië, Skotland, Argentinië en Frankryk buiteperde is.

Dít, sê Hansen, skep verwagtinge. En dit bring druk.

“Dit sal interessant wees om te sien watter spanne daardie druk kan hanteer, want dit is wat die toernooi gaan vereis,” sê hy.

“Dit is waar dat ons in daardie opsig ’n geringe voorsprong het. Ons ervaar deurgaans daardie druk. Sommige van die spanne sal dit die eerste keer hê en dit kan oorweldigend wees.”

Hansen se span moet boonop in Japan wys hy het nie die agteruit geboer die laaste ruk nie. Nieu-Seeland het verlede maand ’n rekordnederlaag van 26-47 teen die Wallabies gely en verlede jaar tuis teen die Springbokke verloor.

Ierland het die All Blacks twee keer geklop die laaste paar jaar, terwyl Engeland en Skotland naby daaraan gekom het.

Die kritici sê Hansen se span het voorspelbaar geword en weet deesdae nie presies watter spelpatroon gevolg moet nie. Die agterlyn word te maklik ingeperk met opskiet-verdediging en daar is boonop te veel spelers in die span wat verby hul beste is, sê die doemprofete.

Hansen kan egter daarop wys dat dit vier jaar gelede dieselfde geval was. Toe het die All Blacks ook verskeie spelers in die skemerlig van hul internasionale loopbane gehad. Dink byvoorbeeld aan Richie McCaw, Dan Carter, Conrad Smith en Ma’a Nonu. Die All Blacks het in die loop van die 2015-toernooi egter al hoe meer momentum gekry en uiteindelik korte mette van die Wallabies in die eindstryd gemaak.

Nieu-Seeland het vanjaar ’n teleurstellende veldtog in die Rugbykampioenskap gehad en was net een keer aan die wenkant – ’n onoortuigende wegoorwinning oor die Poemas. Die All Blacks was egter uitstekend op dreef toe hulle die Wallabies ’n rugbyles op Eden Park gegee het om sodoende die Bledisloe-beker te behou.

Hansen-hulle se grootste uitdaging in die groepfase is volgende Saterdag wanneer hulle teen die Bokke te staan kom. Die All Blacks speel daarna teen Kanada, Namibië en Italië.

“Ek dink dit is goed dat ons eerste teen hulle (die Springbokke) speel, want dit gee ons vryheid om te doen wat ons wil ná daardie wedstryd. Ongeag van wat in daardie eerste wedstryd gebeur, ek weet ons sal algaande ’n beter span word.” – Reuters

Meer oor:  Steve Hansen  |  Japan  |  All Blacks  |  Engeland  |  Wêreldbeker-Rugbytoernooi  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.