Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hansen is rugby se nuutste ridder

Die voormalige All Black-afrigter Steve Hansen het Dinsdag sir Steven geword.

Steve Hansen en sy vrou, Tash Marshall. Foto: Getty Images

Stuff berig die wenner van twee Wêreldbeker-titels is deur Nieu-Seeland tot ridder geslaan, maar Hansen dring daarop aan dat hy “steeds maar net gewone ou Steve is”.

Hansen het agt jaar diens gedoen as assistent onder Graham Henry – wat ook tot ridder geslaan is nadat hy die Wêreldbeker in 2011 verower het – en agt jaar as hoofafrigter van die All Blacks.

Sy tyd aan die stuur was uiters suksesvol: Die All Blacks het die Webb Ellis-trofee in 2015 omhoog gehou en vanjaar derde in die toernooi geëindig, was op vyf geleenthede as Wêreldrugby se Span van die Jaar aangewys, het die Rugbykampioenskap-titel ses keer verower en die Bledisloe-beker die volle agt jaar teen die Wallabies behou.

Hansen sê hy voel “ongelooflik trots en nederig” en is vol lof vir sy vrou en die spelers met wie hy gewerk het.

“Ek sal altyd dankbaar wees vir die talentvolle spelers wat ons kon afrig, asook die ongelooflike spanbestuur en die personeel agter die skerms,” sê hy.

“Jy kan dit nie op jou eie doen nie, so dit kom hulle eintlik ook toe.”

Hoewel Hansen dankbaar vir die eerbewys is, hou hy nie juis van die gedagte om as “sir Steven” bekend te staan nie.

“Ek is steeds maar net gewone ou Steve en dit is hoe ek sou verkies mense my in die toekoms moet noem.”

Hansen, wat ideale gekoester het om ’n perdejoggie te word en sy werksloopbaan as ’n polisieman begin het, sê afrigting was nie iets wat hy ooit gedink het hy goed in sou vaar nie, maar hy wou iets terugploeg in die sport wat hy beoefen het.

“Ek was lief daarvoor om rugby te speel, ek het as speler baie daaruit gekry en ek het gevoel dit is my plig om iets terug te ploeg. Afrigting, vir my, was voor die hand liggend.”

Hansen het die leisels in 2012 by Henry oorgeneem en sy wenrekord in 107 toetse is ’n indrukwekkende 86,9%, met 93 seges, vier gelykopuitslae en tien nederlae.

Steve Tew, uittredende grootbaas van Kiwi-rugby, het ook een van die land se hoogste eerbewyse ontvang deur as ’n offisier op die Nieu-Seelandse ererol aangewys te word.

– Sportredaksie

Meer oor:  Steve Hansen  |  Toetsrugby  |  Wêreldrugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.