Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hardegat en kreatief, maar ook kampvegter

Die All Black-rugbylegende Andy Haden is bestempel as die Marco Polo van rugby.

Hy het in meer as 100 wedstryde die All Black-trui gedra en in 41 toetse gespeel. Vir Auckland het hy ook die 100-kerf verbygesteek. Sy tokse het oor die wêreld heen spore getrap.

Myne! Die All Black-slot Andy Haden (middel) probeer ’n bal in ’n lynstaan voor die twee Britse Leeus, Maurice Colclough (links) en Steve Bainbridge (regs) wegraap in die vierde toets in 1983 in Auckland. Die All Blacks het die Leeus met 38-6 afgemaai en die reeks met 4-0 beklink. Foto: Getty Images

Haden (69), wat vandeesweek ná ’n stryd van 20 jaar teen leukemie dood is, word môre op Edenpark in Auckland gegroet.

Die Springbok-flank Rob Louw, ’n held in die dramatiese toetsreeks van 1981 in Nieu-Seeland, onthou hoe ’n laataand-uitstappie saam met Haden en maats, ná die eerste toets teen die All Blacks in Christchurch, hom sy plek in die toetsspan gekos het.

“Andy het vir my en Hempies (du Toit) genooi vir ’n paar drankies, en dit was ’n jol,” sê Louw. “Daar is soveel wedersydse respek tussen die All Blacks en Bokke.

“Ek en Hempies het omstreeks drie-uur die volgende oggend teruggekeer na die muurbalbane waar die Springbok-span moes slaap (op kampbeddens) – om die betogers te ontduik. Daar het ons op ons tone ingesluip, maar toe ek by prof. Johan Claassen (spanbestuurder) verbykruip, het hy wakker geword en met ’n skor stem gemor: ‘Ons sal môre praat . . .’ ”

In sy boek Barbed Wire Boks skryf Don Cameron grappenderwys as “dit Louw en Du Toit se afwesigheid vir die tweede toets verklaar het, het Haden sekerlik geglimlag oor die wete dat hy die All Blacks ’n guns bewys het . . .”

Hy was aan die voorpunt van vernuwing. Hy het voortdurend gestry vir speler-welvaart en die vergoeding van spelers.

“Ek en Andy het baie goeie vriende geword,” vertel Louw verder. “Hy’t selfs vir my in Italië kom kuier toe ek vir L’Aquila en hy vir Rugby Roma Olympic gespeel het.

“Ek het nie besef dat hy vir so lank kanker moes afweer nie; dis ongelooflik,” sê Louw, wat al langer as tien jaar in remissie is nadat hy in 2009 met aggressiewe melanoom gediagnoseer is.

“Die groot K loer gedurig oor ’n mens se skouer; jy moet maar heeltyd in jou pasoppens wees.”

Louw het Haden vir die eerste keer ontmoet toe hulle in die vroeë tagtigs vir ’n uitnodiging-vyftiental teen Wallis gespeel het ter inwyding van die nuwe Cardiff Arms Park.

“Andy het tydens ’n spanpraatjie in die hotel vir my gevra of ek my Springbok-trui vir sy All Black-trui wil verruil. Ek was natuurlik verheug om ’n All Black-trui te kon bekom, maar net om die draai het hy my Bok-trui aan ’n Wallieser verkoop vir ’n hele paar ponde!

“Maar, dit was Andy Haden.

“Hy was aan die voorpunt van vernuwing. Hy het voortdurend gestry vir speler-welvaart en die vergoeding van spelers.

“Hy was ’n unieke individu, ’n puik ou en hy was sy tyd ver vooruit wat die spelersituasie betref het.”

Haden was inderdaad ’n unieke karakter, ’n ware rugby-entrepreneur – en dit reeds in die amateur-era. Om die waarheid te sê, hy was een van die baanbrekers wat rugby al spartelende in die professionele era help insleep het.

Murray Mexted, sy All Black-spanmaat en ’n groot vriend, beaam dit. “Van al my tydgenote in rugby was Andy Haden die een wat ek die meeste bewonder en respekteer,” erken Mexted, uit Wellington waar hy aan die stuur staan van die International Rugby Academy (IRANZ).

Andy Haden knak ’n koue.

“Andy het gedurig die rugby-owerhede bevraagteken en uitgedaag ten einde vooruitgang te bewerkstellig, en hy kon altyd sy argumente rugsteun met ’n intellektuele, objektiewe, logiese en laterale perspektief.

“Hy was in heelwat opsigte die katalisator wat die beeld van rugby help verander het in die oë van die oningeligtes.

“As speler het Andy lynstaanspring vervolmaak as ’n kunsvorm, pleks van brute wedywering – soos Victor Matfield meer onlangs ook gedoen het. Om ’n mens se teenstander in die lynstaan uit te oorlê, was iets waarmee ek my kon vereenselwig, en Andy was ’n meester.

“Op toere het ek myself as sy vakleerling beskou; ek was mal daaroor om vindingryke maniere te ontdek ten einde beter resultate te verkry.

“Andy was ’n leier by uitstek, en een van Nieu-Seeland se grootste ambassadeurs.”

Haden was ook ’n groot voorstaander van sportbetrekkinge met Suid-Afrika gedurende die isolasiejare.

Hy het in Suid-Afrika getoer met uitnodigingspanne in die laat sewentigerjare, in al drie toetse teen die Springbokke gespeel in 1981 en was een van die baasbreine agter die rebelle Kavalier-toer van 1986.

“Dit het rugby finaal op die pad na ’n professionele spel geplaas,” meen Lawrie Knight, ’n All Black-spanmaat van Haden wat die Britse Leeus in 1977 help verslaan het.

“Andy het ’n talentagentskap, Sporting Contacts, op die been gebring om sportmense, en ander Kiwi-bekendes, te verteenwoordig, iets wat nogal uniek was in die Nieu-Seelandse samelewing.”

Andy Haden was ’n groter-as-lewensgroot karakter, wat nooit teruggedeins het vir konfrontasie nie.

Haden was onder andere die agent van die topmodel Rachel Hunter, wat met die Britse rock-legende Rod Stewart getroud was.

“Andy het ook die gewilde Classics, ’n goue-oues-rugbytoernooi in Bermuda in die laat tagtigerjare die lig laat sien.

“Sy rugbyrekord spreek vanself, maar hy was ook veel meer,” sê Knight.

“Andy Haden was ’n groter-as-lewensgroot karakter, wat nooit teruggedeins het vir konfrontasie nie. ’n Goeie voorbeeld was die voorval tydens ’n toerwedstryd tussen die Kavaliers en WP op Nuweland in 1986. Humeure het telkens opgevlam, en die skeidsregter, die voormalige Springbok Wynand Mans, was op die punt om ’n Nieu-Seelander van die veld te jaag.

“Haden het Mans egter duidelik laat verstaan: ‘As hy loop, loop ons almal . . .’ Die uiteinde was slegs ’n strafskop.

“Menige rugby-administrateur het oor die jare stelle met hom afgetrap, maar uiteindelik was die nuwe bestel wat hy vir spelers help onderhandel het, van onskatbare waarde.

“Hy laat ’n groot leemte in die rugbywêreld.”

Meer oor:  Andy Haden  |  Oorlede  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.