Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Harold groet, maar bly ’n Cheetah

Harold Verster se uittrede as besturende direkteur van die Vrystaat-Cheetahs sal allermins beteken dat hy vir rugby in dié provinsie verlore is.

Harold Verster is sinoniem met rugby in die Vrystaat. Foto: Verskaf

Trouens, hy sal “in hart en siel en met passie” by die Cheetahs betrokke bly.

Die aankondiging Woensdag dat Harold Verster in September die tuig neerlê, het dalk vir sommige mense as ’n verrassing gekom, maar hy het aan die einde van verlede jaar se Curriebeker-reeks reeds daarop gesinspeel.

Hy het so vroeg as die Maandag nadat die Vrystaat die Curriebeker ’n sesde keer omhoog gehou het, in ’n vergadering aan personeel genoem dat daar aandag aan sy aftrede gegee word.

Verster (70) is sinoniem met Vrystaat-rugby en hy sal ná sy amptelike aftrede later vanjaar in ’n raadgewende hoedanigheid by die Vrystaatse Rugbyunie aanbly.

Ek het werklik nie eintlik in rugby gewerk nie, ek het daarin gelewe en ek sal altyd nog in hart en siel en met passie by die Cheetahs betrokke bly.

“Daar’s ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Die vroegste wat ek sal klaarmaak as hoofbestuurder is in September, maar daarna bly ek vir ’n hele tyd aan as ’n konsultant,” sê Verster.

Oor sy jare lange betrokkenheid by die unie is Verster diplomaties. Dié wat hom ken, sal weet dat hy vir die Vrystaat-Cheetahs en Cheetahs geleef het.

“Wel, dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om vir so lank by Vrystaat-rugby betrokke te wees. Vandat ek my verstand het, is ons Vrystaters. Ek is hier gebore en het op Vrede skoolgegaan. Ek het ’n o.12-wedstryd vir Noordoos-Vrystaat teen die Vrystaat in Bloemfontein gespeel.

“Ons was ná daai wedstrydjie in 1962 op die gras langs die veld toe Mannetjies Roux sy beroemde drie hier (in die vierde toets teen die Britse Leeus) gedruk het. Ek en my broer (Basie) het dit in lewende lywe gesien.

“Daarna het ek vir Grey gespeel, die Shimlas, Vrystaat, Collegians en toe raak ek in administrasie betrokke – eers by die Shimlas en daarna by Vrystaat-rugby en ook die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

“Ek het werklik nie eintlik in rugby gewerk nie, ek het daarin gelewe en ek sal altyd nog in hart en siel en met passie by die Cheetahs betrokke bly.

“Hoewel ek nie meer amptelik gaan werk ná volgende jaar nie, sal ek wel nog betrokke wees met ondersteuning,” laat weet Verster.

Hy sê die proses om sy opvolger te vind, het nog nie begin nie, maar hy is vol vertroue dat die geskikte persoon vir die pos wel gevind sal word.

“Die proses is in die hande van die direksie en hulle sal dit hanteer. Ek dink dit sal ’n goeie proses wees. By die Bulle het hulle die saak vinnig en effektief gehanteer, so ’n mens kan daaruit leer.”

Oor die huidige stand van rugby en met die Covid-19-pandemie wat die sport ’n gevoelige knou toegedien het, glo Verster tog dit kan ook positiewe veranderinge aan die rugbylandskap teweegbring.

“In dié stadium dink ek nogal dinge kan ten goede verander – omdat die globale kalender, wat eers in 2023 sou begin, nou reeds in 2021 in werking kan tree. In 2020 kan ons dalk ’n dubbelronde van krag-teen-krag in die Curriebeker-reeks sien, wat baie goed kan wees as dit ’n werklikheid word.

“En dan volgende jaar lyk dit of daar interessante planne rondom die Pro14-reeks is, wat ook vir ons voordele kan inhou,” sê Verster.


Meer oor:  Cheetahs  |  Harold Verster  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.