Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Harold in sy noppies met skuif na Bulle

’n Afrigter weet nooit heeltemal of ’n speler wat van oorsee teruggelok word, ’n waardevolle toevoeging of ’n onverwagse las op sy unie se boeke gaan wees nie.

’n Hoogaangeskrewe Springbok-stut is byvoorbeeld vroeër die jaar gouer by Loftus Versfeld weg as wat hy gearriveer het.

Harold Vorster, senter van die Bulle, Sondag op volle vaart teen die Leeus op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

In die senter Harold Vorster se geval, is daar nie enige twyfel by Jake White of die Bulle ’n goeie kopie gemaak het om dié 27-jarige produk van Phalaborwa ’n nuwe rugbytuiste in Pretoria te gee nie.

Vorster het ná ’n paar seisoene by die Panasonic Wild Knights in Japan met die intrapslag ’n impak vir die Bulle in die middelveld gemaak.

Hy het Sondag in die Curriebeker-ontmoeting met die Leeus sy span baie momentum op die aanval gegee en hy het hom vinnig as ’n sleutelspeler in die 12-kanaal gevestig.

Vorster het ook Sondag sy vennootskap met sy ou Leeu-sentermaat Lionel Mapoe hervat.

Hy sê dit is ’n “seën en voorreg” dat die Bulle hom genader het.

My tyd in Japan was waardevol, maar dit is altyd lekker om terug in Suid-Afrika by jou familie te wees.

“Ek het dit geniet in Japan, maar toe Edgar (Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy) my gekontak het, het ek dit as ’n groot geleentheid beskou.”

“Ek geniet dit saam met die afrigters by die Bulle en die groep spelers wat hier is.

“My tyd in Japan was waardevol, maar dit is altyd lekker om terug in Suid-Afrika by jou familie te wees.”

Vorster, wat in 2017 vir ’n Suid-Afrikaanse A-span en die Barbarians gespeel het, het ook nog Springbok-drome, erken hy.

“Dit is beslis my droom en ek sal aanhou hard werk om daardie doelwit te bereik. Ek glo die ervaring wat ek oor die seisoene opgedoen het, maak ’n ou ’n meer afgeronde speler.”

Maar vir eers moet hy toesien hy bly die voorste binnesenter in Pretoria.

Cornal Hendricks was verlede seisoen ’n openbaring in die nr. 12-trui vir die Ligbloues en White sal hom sonder twyfel weer in die middelveld kies.

“Ons is ’n span met ’n gesamentlike doel en as die afrigters spelers in sekere posisies kies, gaan ons nie kla nie.

“Ons ondersteun mekaar, want jy dink nie aan jouself nie.

“Die span se behoeftes is altyd die belangrikste.”

Die Bulle kom Vrydagaand in Kaapstad teen die Westelike Provinsie te staan, maar Vorster steur hom nie veel aan die Noord-Suid-derby nie.

“Die WP speel goeie rugby en ons doen ons huiswerk deeglik.

“Elke span teen wie ons in die kompetisie speel, bied egter ’n uitdaging, so jy kan nie enige van die teenstanders uitsonder nie.”

Meer oor:  Harold Vorster  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.