Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Konkussie: Pasop as jy op veld lak
Ross Tucker. Foto: Edrea du Toit

Vir elke 500 duikslae wat in beroepsrugby uitgevoer word, doen een speler harsingskudding op.

Dis egter die verdediger, eerder as die baldraer, wat die grootste gevaar loop om ’n kopbesering op te doen.

Só het prof. Ross Tucker, gerekende sportwetenskaplike en hoëprestasie-mediese konsultant vir Wêreldrugby, vandeesweek by die Conqa-groep se elite-sportkonferensie in Kaapstad gesê.

Tucker, wat Wêreldrugby bystaan met sy navorsing oor harsingskudding, het die duikslag uitgewys as die faset van die spel wat die gevaarlikste is in terme van harsingskudding opdoen.

Tucker was een van talle vooraanstaande plaaslike en internasionale sportlui wat die driedaagse konferensie in die Moederstad bygewoon het.

Tucker het konferensiegangers toegespreek oor Wêreldrugby se navorsing oor harsingskudding en die toepaslike gebruike van data vir sportafrigters.

Die doel van dié navorsing is om die risiko vir harsingskudding in rugby te verminder.

“Harsingskudding word selde in lynstane, skrums, losskrums of mededinging om ’n lugskop opgedoen,” het Tucker gesê.

Volgens Wêreldrugby se navorsing loop die verdediger ’n groter risiko om harsingskudding op te doen as die baldraer. Foto: Getty Images

“Die statistieke wys die duikslag is die gevaarlikste faset. Wat jou egter sal verbaas, is dat die speler wat die duikslag uitvoer ’n groter risiko loop om harsingskudding op te doen as die speler wat geduik word. Amper 75% van kopbeserings word opgedoen deur die speler wat die duikslag uitvoer, eerder as die baldraer.

“Dít is waarom data in sport belangrik is. Indien die baldraer, eerder as die verdedigende speler, ’n groter risiko geloop het, sou Wêreldrugby se benadering tot die oplossing anders gewees het.”

Wêreldrugby en Tucker het na aanleiding hiervan alle aspekte van die duikslag ontleed.

Die tipe duikslag, die bedoeling van die speler, die vaart van die spelers, die rigting van die duikslag, die tegniek en die moontlike kopstamp teen ’n ander kop, skouer of knie.

Volgens Tucker word beseringsvrye duikslae ook gemeet om die risiko te kan bepaal.

“ ’n Mens kan nie risiko bepaal net deur die gevalle van harsingskudding te tel nie. ’n Voorbeeld hiervan is die 12 mense wat elke jaar sterf omdat hulle selfies geneem het teenoor die vyf wat in haaiaanvalle omkom.

“Dit is verkeerd om dan te besluit selfies is gevaarliker as haaie. Dis ’n onnosele manier van redeneer. Daar neem miljarde mense elke dag selfies, terwyl daar aansienlik minder aan haaiaanvalle blootgestel word.”

Wat jou egter sal verbaas, is dat die speler wat die duikslag uitvoer ’n groter risiko loop om harsingskudding op te doen as die speler wat geduik word.
Ross Tucker

Tucker en Wêreldrugby kon sodoende die waarskynlikheid dat duikslae tot kopbeserings gaan aanleiding gee, vasstel.

Hulle het dit gedoen deur die aantal kopbeserings wat vir elke 1 000 duikslae plaasvind te bepaal.

“Die antwoord is dat daar basies twee kopbeserings per 1 000 duikslae is. Vir elke 500 duikslae is daar ’n kopbesering.”

Volgens Tucker is die volgende stap om harsingskudding te verminder en die besluit wat deur Wêreldrugby geneem is, is om verdedigende spelers te dwing om laer in die kontak in te gaan.

Wêreldrugby sal aanstaande jaar bepaal of die strenger optrede teen onwettige duikslae die spel veiliger gemaak het. Foto: Getty Images
Sonny Bill Williams het vanjaar die eerste All Black in vyf dekades geword om ’n rooikaart te ontvang. Hy is vir ’n skouerloop op Anthony Watson in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus van die veld gejaag. Foto: Getty Images

Dit is gedoen omdat Wêreldrugby se data toon dat spelers wat “hoër ingaan” om te duik, ’n groter gevaar loop om hul kop te beseer.

“Daar was 130 kopbeserings toe die verdediger se kop die aanvaller se kop getref het en 165 wanneer die verdediger se kop onder die baldraer se bors getref het.

“Dit beteken egter nie dis gevaarliker om onder die bors te duik nie. Dis weer ’n geval van selfies teenoor haaie.

“Ons het bevind die risiko, vanweë blootstelling, is driedubbel soveel as die verdediger hoog vat. Wat doen ’n mens dan? Dis hoekom Wêreldrugby ’n wetlike riglyn uitgestuur het dat die duikslag ‘verlaag’ moet word.”

Volgens Tucker was die strenger optrede teen hoë duikslae nie om die baldraer te beskerm nie, maar wel die verdediger.

“Hy is nie die ou wat die risiko loop nie, dis die verrassende ding. En ons sou dit nie geweet het as ons nie van data gebruik gemaak het nie.”

Volgens Tucker is dit in die stadium nog onduidelik of Wêreldrugby se ingrepe spelers se gedrag verander het. Dít sal volgende jaar ontleed word.

In November vanjaar sal die verdedigingsafrigters van al tien die voorste toetsspanne bymekaarkom om verdere voorstelle te maak om spelers te beveilig teen harsingskudding.

* Volgens Daniel Gallan, woordvoerder van die Conqa-groep, was 230 afgevaardigdes, wat verteenwoordigers van groot internasionale sportspanne soos Manchester City ingesluit het, by die konferensie. Wêreldrugby en Britse Fietsry is ook verteenwoordig.

Meer oor:  Harsingskudding  |  Wêreldrugby  |  Ross Tucker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.