Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Hartkwaal’ rol steed klippe voor Cornal in

Die Bulle-senter Cornal Hendricks is besig om regs- en mediese kwessies met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie uit te stryk wat moontlik tot sy lang verwagte terugkeer tot internasionale rugby kan lei.

Cornal Hendricks sny deur ’n gaping in die Bulle se kragmeting met die Stormers op Loftus Versfeld in die plaaslike Superreeks. Foto: Gallo Images

Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, het gisteraand bevestig hulle wil dié vlugvoetige Bulle-senter betrek.

Maar voor Erasmus en die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, die groen lig van SA Rugby se medici kry om Hendricks weer in te span, kan hulle dit nog nie doen nie.

Die veelsydige Springbok is in 2016 met ’n hartkwaal gediagnoseer en het sedert 2015 nog nie weer vir die Springbokke gespeel nie.

“Dis iets waaroor ons die laaste tyd kop gekrap het,” het Erasmus erken. “Alhoewel Jacques ’n gekwalifiseerde fisio is, kan ons nie mediese besluite neem nie. As ’n speler ’n mediese toestand of harsingskudding het, moet hy eers deur ons dokters die groen lig gegee word om weer te speel, hetsy vir die Springbokke of die nasionale sewesspan.

“Ons wou Cornal graag by die sewesspan vir die Olimpiese Spele betrek het en ook teen die Britse Leeus oorweeg het. Ons almal kan sien hy speel tans skitterende rugby en met sy huidige spelpeil is dit duidelik daar moet ’n rede wees as hy nie vir die groep van 46 gekies word nie.

“Ons was so tien of 12 dae terug met hom in gesprek. Daar is mooi met hom gesels en ons het gehoor hoe gretig hy is om te speel. Ons het aan hom verduidelik die oomblik as ons die groen lig kry, kan ons hom kies. Dit is ’n persoonlike mediese situasie, so ek wil nie ingaan daarop nie. Ek het nie die reg nie.

“Ek en Jacques wag nou vir die mediese departement. Neil Powell (die Blitsbok-afrigter) sit en wag ook. Ons hoop om dit so gou as moontlik uit te sorteer.”

Hendricks word tans as die voorste binnesenter in plaaslike rugby beskou danksy sy vertonings vir die Bulle.

Insluiting in die Bok-span sal baie jare van hartseer oor sy rugbyloopbaan iets van die verlede maak.

Hy was sedert 2015 drie jaar in die rugbywoestyn voordat eers klubrugby en toe ’n kontrak by die Bulle hom daaruit gered het. Dis juis in sy klubrugby-dae dat hy met regstappe begin het om SA Rugby te oortuig hy moet weer speel.

Die moederliggaam het ’n stokkie daarvoor probeer steek, maar sy klubspan, Roses United in Wellington, het ’n brief van SA Rugby dat hy nie moet speel nie, geïgnoreer. Die dispuut tussen hom en SA Rugby is nooit uitgeklaar nie, maar die Bulle-afrigter, Jake White, het Vrydag gesê daar word nou hard gewerk om die situasie te besleg.

“Ek hoop daar is helder denke daaroor. Die proses het al begin en SA Rugby en wie ook al betrokke is by die besluite het met Cornal en sy regspan vergader.

“Dis ’n goeie ding vir Suid-Afrika, want (Cornal) het nog soveel om te bied. Hy speel in baie posisies, hy is ervare, hy het al sewes gespeel. Ek hoop dat hy vorentoe weer sy hand sal kan opsteek (vir nasionale diens).”

Meer oor:  Sa Rugby  |  Springbokke  |  Cornal Hendricks  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.