Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hawies: Blasers moenie invloed op uitslag hê
Die Cheetahs gaan in Ierland en Wallis baie staatmaak op die ervaring van Ruan Pienaar, wat jare lank in daardie toestande gespeel het in sy tyd by Ulster.Foto: Gallo Images

Hulle wil nie dié keer op hul toer sien dat skeidsregtersbeslissings ’n invloed op die uitslag van wedstryde het nie.

Dít is op Hawies Fourie, breier van die Cheetahs, se wenslys vir die toer van drie weke na Ierland en Wallis, waarop hulle Dinsdag vertrek.

Juis met die vorige toer na dié lande was daar ’n paar bedenklike besluite, wat die Cheetahs van minstens een oorwinning beroof het.

“Daar is baie goed buite jou beheer. Soos byvoorbeeld die beslissing wat die skeidsregter in daardie laaste paar minute (met ’n skrum) gemaak het in die wedstryd teen Connacht – ons kon niks daaraan doen nie.

“Ons kan iets doen aan die rooikaarte wat ons gekry het, so ons dissipline moet beslis beter wees. Ek dink as ons kyk na die duikslag van Elrigh Louw van die Southern Kings op Daniel Maartens verlede week hier in Bloemfontein – as een van ons spelers dieselfde teen Leinster sou doen, sal dit ’n rooikaart wees, hulle sal nie die voorval na die televisieskeidsregter verwys nie,” sê Fourie.

“Ons dissipline sal op die toer baie goed moet wees, dit moet nie die skeidsregter of enigiemand anders die kans gee om ’n invloed op die uitslag van die wedstryd te hê nie.

“Ons moet alles binne ons beheer goed doen. Ons het op die vorige toer baie strafskoppe afgestaan, ’n geelkaart en twee rooikaarte.

“Dis beslis ’n area waar ons kan verbeter. Ek glo ons is almal nou meer op dieselfde bladsy, want met die vorige toer het ek net tien dae voor dit begin (afrig by die Cheetahs).”

Hy sê daar was toe ook nog baie onsekerhede en dis nou uit die weg geruim. Hy glo voorts die span het nou ook ’n beter idee wat om te verwag en wat hulle te doen staan.

Die Cheetahs se teenstander Saterdag, Leinster, is die enigste onoorwonne span in die reeks en hoewel dit moeilik gaan wees, sien die Cheetahs kans vir hulle in Ierland.

“Ons gaan soontoe met die wete dit is die sterkste span in die kompetisie, hulle het nog nie die seisoen verloor nie. Maar as ons alles goed uitvoer, dan het ons ’n kans om te wen. As jy nie ’n kans het om te wen nie, dan moet jy nie deelneem nie en dis ons ingesteldheid,” sê Fourie.

* Leinster het tans 16 spelers in Ierland se Sesnasies-groep. Agt van hulle was nog in die 23-tal in Leinster se laaste Pro14-wedstryd op 4 Januarie teen Connacht. Dié sege van 54-7 was hulle tiende agtereenvolgende.

Meer oor:  Connacht  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Leinster  |  Hawies Fourie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.