Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok vir sports, maar luister as Hawies praat

Die senter Chris Smit, wat vanjaar saam met Maties die Varsitybeker-reeks gewen het en toe Griekwas toe is, sal volgende week saam met die afrigter, Hawies Fourie, by die Cheetahs herenig word.

Smit is een van ’n handvol spelers wat onder Fourie in Stellenbosch gespeel het, wat ’n tuiste by die Cheetahs gevind het.

Chris Smit,een van die Cheetahs se nuwe senter-aanwinste, noem voortaan die Toyota-stadion sy tuisveld. Foto: Mlungisi Louw

“Toe coach Hawies weet dat hy Vrystaat toe kom om die Cheetahs af te rig, het hy my gebel om te hoor of ek sou belangstel. Die besluit om te kom was eintlik ’n heel maklike een om te neem,” sê die 24-jarige Smit.

Hy weet sy koms na die Cheetahs, met ’n kontrak van twee jaar, kan vir hom deure oopmaak in terme van sy loopbaan, maar is bewus daarvan wat dit gaan verg om die tree na die volgende vlak te gee.

Hy was deel van Griekwas se groep wat vanjaar die SuperSport-uitdaagreeks gewen het en toe die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks gehaal het.

“Ek sien daarna uit om weer onder Hawies te speel, maar ek weet dit gaan heel anders wees. Hierdie is beroepsrugby en ek weet daar wag baie uitdagings op my,” sê die gekwalifiseerde onderwyser.

Toe coach Hawies weet dat hy Vrystaat toe kom om die Cheetahs af te rig, het hy my gebel om te hoor of ek sou belangstel.
Chris Smit

Smith weet hy kan hom klaarmaak vir ’n gespook om plek in Fourie se Cheetah-span, want soos sake staan, is daar heelwat spelers wat meeding om die senter-truie.

“Ek weet dit gaan moeilik wees. Die manne wat daar is, Benhard (Janse van Rensburg), William (Small-Smith) en Dries (Swanepoel) is ervare spelers.

“Hulle speel lank reeds Curriebeker- en Pro14-rugby, maar vir my gaan dit daaroor om soveel as moontlik te leer en as my geleentheid kom, sal ek dit met albei hande aangryp en die beste daarvan maak.

“Ek weet ek gaan baie by die spelers leer met wie ek om ’n plek meeding, maar ek voel ook daar is sekere aspekte van my spel waar ek hulle weer kan leer – ek sien dit as ’n wen-wen-situasie.”

Die blondekop-senter sê voorts hy het van kleins af daarvan gedroom om beroepsrugby te speel, maar hy wou ook gaan studeer om “iets agter sy naam te kry”.

“Ek is eintlik agter baie spelers van dieselfde ouderdom, maar ek is nie spyt daaroor dat ek eers gaan studeer het nie.”

Wat weet hy van die Cheetahs se nuwe breier wat sy spanmaats nie weet nie?

“Ek het op Stellenbosch geleer dat coach Hawies nie baie praat nie, maar as hy praat, moet jy luister. Van die veld af is hy altyd ’n bok vir sports, baie mededingend. Ek dink ouens gaan dit agterkom sodra daar aksie-krieket of rolbal gespeel word. Hy hou nié van verloor nie,” sê Smit.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.