Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hawies kies span vir Cardiff-kunsgras

’n Vinnige agterlyn vir ’n vinnige veld.

Hoewel reën Saterdag in die Walliese hoofstad verwag word, glo die Cheetahs se Pro14-rugbyspan dat die kunsmatige oppervlak van Cardiff Arms Park, waar hulle die Cardiff Blues Saterdag pak, steeds vinnig gaan wees.

William Small-Smith is op senter gekies vir Saterdag se Pro14-wedstryd teen die Cardiff Blues in Wallis. Foto: Mlungisi Louw

“Ons span is so gekies om baie spoed agterlangs op daardie vinnige oppervlak te hê. Ek glo dit sal spelers soos Antony Volmink, Rhyno Smith, Clayton Blommetjies en William Small-Smith soos ’n handskoen pas,” het Hawies Fourie, hoofafrigter van die Cheetahs, Vrydag gesê.

“Ons glo as ons genoeg goeie balbesit op die voorvoet kry, dit sal help dat ons agterspelers goeie gapings sal slaan en drieë druk met hulle spoed en goeie voetwerk.

“Ons kon gelukkig dié week op Cardiff City se sokkerveld oefen, wat ook ’n kunsmatige oppervlak het. Dit is soos die oppervlak van Cardiff Arms Park waar die wedstryd gespeel word, so ons is nou gewoond daaraan.

“Die skrumwerk kan dalk ’n uitdaging wees, want ons agttal het tydens oefening ’n bietjie gegly en gesukkel om die skrum op te hou.

“Ons kon wel ná Donderdag se oefening nog ’n skrumsessie inpas, so ek glo ons behoort gereed te wees daarvoor.”

Fourie het grootskaalse veranderinge aan sy span aangebring straks in ’n poging om die kort toer van drie wedstryde van mislukking te red.

Die Cheetahs sal met agt veranderinge, wat drie posisionele skuiwe insluit, opdraf.

Volmink is terug op linkervleuel, met Blommetjies wat na regtervleuel skuif in die plek van Small-Smith.

Laasgenoemde vervang Louis Fouché wat die binnesenter was in die vorige wedstryd. Benhard Janse van Rensburg is nou die binnesenter, terwyl Small-Smith buitesenter speel. Die kaptein, Ruan Pienaar, begin weer op skrumskakel.

Die Kings vroeër vanjaar op Cardiff Arms Park se kunsgras in aksie teen die Blues. Die Cheetahs speel Saterdagaand op dié veld. Foto: Getty Images

Voorlangs maak Luan de Bruin sy eerste verskyning in die beginspan die seisoen. Hy sak ook die eerste keer op loskopstut. Hy vervang Boan Venter.

Die slot Walt Steenkamp en flank Gerhard Olivier is in die opdrafspan en ruil plekke met JP du Preez en Sias Koen.

Die tuisspan se afrigter, John Mulvihill, het nie een van Wallis se spelers wat verlede week in die bronsmedalje-wedstryd teen Nieu-Seeland by die Wêreldbeker-toernooi gespeel het, gekies nie.

Hy het wel vier veranderinge aan die beginspan gemaak.

Die senter Rey Lee-Lo, wat vir Samoa gespeel het, is die enigste speler in die span wat Wêreldbeker-diens gedoen het.

Die kaptein en skrumskakel, Lloyd Williams (29), speel in sy 200ste wedstryd.

Cardiff sal ná vier agtereenvolgende nederlae terug op die wenpad wil kom.

“Hulle het nie die beste begin gehad tot dusver nie, maar het ’n goeie span, veral agterlangs. Die senterpaar is twee gevaarlike manne en die heelagter Matthew Morgan is ’n speler met hope vaart en goeie voetwerk.

“Daarby beskik hulle oor ’n baie fisieke pak voorspelers, so dit gaan ’n groot uitdaging wees,” sê Fourie.

* Spanne:

Cardiff Blues: Matthew Morgan, Harri Millard, Rey Lee-Lo, Jarrod Evans, Aled Summerhill, Jason Tovey, Lloyd Williams (k), Nick Williams, Will Boyde, Shane Lewis-Hughes, Seb Davies, Josh Turnbull, Scott Andrews, Liam Belcher, Corey Domachowski. PLAASVERVANGERS: Kirby Myhill, Brad Thyer, Keiron Assiratti, Macauley Cook, Alun Lawrence, Lewis Jones, Willis Halaholo, Jason Harries.

Cheetahs: Rhyno Smith, Clayton Blommetjies, William Small-Smith, Benhard van Janse van Rensburg, Anthony Volmink, Tian Schoeman, Ruan Pienaar (k), Jasper Wiese,

Junior Pokomela, Gerhard Olivier, Walt Steenkamp, Sintu Manjezi, Aranos Coetzee, Joseph Dweba, Luan de Bruin. PLAASVERVANGERS: Wilmar Arnoldi, Boan Venter, Erich de Jager, JP du Preez, Sias Koen, Tian Meyer, George Whitehead, Louis Fouché.

Skeidsregter: Ben Blain (Skotland).

Assistent-skeidsregters: Mike Adamson (Skotland), Fin Brown (Skotland).

TV-skeidsregter: Andrew McMenemy (Skotland).

Afskop: 19:10 (SS 1).

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.