Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hawies sal nie nee sê vir Cheetahs se pos

Hawies Fourie, die triomfantelike Maties se afrigter, sal nie nee sê as die geleentheid hom voordoen om die Cheetahs weer af te rig nie.

Fourie (50) het die Stellenbossers Maandag tot hul tweede agtereenvolgende Varsitybeker-titel gelei, toe hulle Tuks in die eindstryd met 34-12 geklop het.

Hawies Fourie by ’n oefening van die Cheetahs in 2013 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Ek wil baie graag weer op ’n hoër vlak afrig. Dit is iets (om die Cheetahs af te rig) waarin ek sal belangstel stel indien die geleentheid hom sou voordoen,” sê Fourie.

Hy is om kommentaar genader nadat dit die naweek rugbaar geword het dat Franco Smith se pos as afrigter van die Cheetahs dalk binnekort vakant kan raak.

Smith word verbind met die pos van afrigter van Italië se nasionale span.

Fourie is natuurlik geen onbekende in die sentrale streek nie. Hy was die Cheetahs se agterlynafrigter van 2007 tot 2013, toe die voormalige Bok Naka Drotské die hoofafrigter was. Ná Fourie se tyd in Bloemfontein het hy Griekwas se afrigter geword.

“Dit sal ’n groot geleentheid wees om die Cheetahs af te rig. Dit is immers een van die topses-afrigtingsposte in die land.

“Maar ek is seker daar is baie ander ouens wat daarin belangstel, en dit gaan nie so maklik wees (om die pos te kry) soos om net my naam in die hoed te gooi nie,” sê Fourie.

Voor sy tyd in Bloemfontein en Kimberley, het hy Boland afgerig en was ’n seisoen die Stormers se agterlynafrigter.

Fourie het groot sukses by die Maties behaal sedert hy laat in 2015 na Stellenbosch verhuis het. Die Maties het in 2016 en 2017 die eindstryd van die Varsitybeker-reeks gehaal, voordat hulle die afgelope twee jaar die titel gewen het.

Nadat die Maties die eerste drie jaar van die Varsitybeker-reeks oorheers het, deur van 2008 tot 2010 die kampioen te wees, was daar ’n paar maer jare.

Gevra wat hom ná twee reeksseges sal motiveer om voort te gaan in dié pos, sê Fourie dat hy nie glo aan tweede beste nie.

“Ek is baie mededingend en in alles wat ek aanpak wil ek die beste wees. Ek sal nooit nie my beste gee nie. Ek sal dalk ’n dag of twee, of ’n week neem om die sege (teen Tuks) te geniet, maar dan sal ek weer begin beplan vir die nuwe seisoen,” sê Fourie.

Hoeveel beteken dit om die Varsitybeker staanplek in Stellenbosch te gee?

“Verlede jaar (2018) s’n was dalk belangriker omdat daar ná die twee jaar (2016 en 2017) groot druk was. So verlede jaar se sege was op ’n ander vlak.

“Maar elke oorwinning is spesiaal en om te sien hoe die spelers ontwikkel en deur die stelsel kom, is lekker.

“Ons het ’n goeie stelsel en is omring met goeie rugbyskole, met baie ouens wat in elk geval hier kom studeer,” sê Fourie.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Maties  |  Cheetahs  |  Hawies Fourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.