Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hawies skep moed vir Curriebeker
Hawies Fourie glo dat sy span sal reg wees wanneer die Curriebeker-reeks oor twee weke begin. Dié foto is tydens die eindstryd in 2019 in Bloemfontein geneem. Foto: Gallo Images

Die afgelope twee weke was die Vrystaat-Cheetahs se afrigter, Hawies Fourie, ’n effens bekommerde man, maar ná sy span se eerste oefenwedstryd het sy gemoed gelig.

Dit nadat sy span Griekwas Saterdag met 40-7 in Kimberley geklop het. Vir Fourie was die wedstryd om verskeie redes van kritieke belang.

Ja, die Curriebeker begin vroeg in Oktober, maar dit wat hy die laaste ruk op die oefenveld in Bloemfontein gesien het, het hom nie heeltemal oortuig nie. Hy was nie seker dat dinge vir die Curriebeker-kampioen op koers is nie.

Hawies Fourie, afrigter van die Vrystaat-Cheetahs. Foto: Mlungisi Louw

“Ons sal oor twee weke reg wees. Ek moet sê dat ek vandag (Saterdag) meer positief voel as wat ek die afgelope twee weke was. Dit is ook anders as die ouens teen spelers speel wat nie hul taktiek en vaardighede ken nie. Dit is wat ek vandag (Saterdag) gesien het,” sê Fourie.

“Ek het baie hoop vir die Curriebeker gekry en dink dat ons kan goed vaar. Ek was maar die laaste ruk op my senuwees, maar ons sal reg wees vir enige span.”

Die Cheetahs was met die rustyd gerieflik met 33-0 voor, met Fourie wat in die tweede helfte ’n heel ander span laat speel het. Hy sê dat dinge nie so goed in die tweede helfte verloop het nie.

“Daar is nog werk wat wag, veral op die verdediging. Ook die voorspelers se voetwerk voordat hulle kontak maak. Ons skrums was goed en in die eerste helfte ook ons lynstane. In die tweede helfte was die lynstane egter swak.

“Dit was ’n spanpoging, almal in die span wat eerste gespeel het, was goed. Al 15 spelers het gedoen wat ons van hulle verwag het,” sê Fourie.

Dit was ’n spanpoging, almal in die span wat eerste gespeel het, was goed. Al 15 spelers het gedoen wat ons van hulle verwag het.
Hawies Fourie

Daar was nie enige ongevalle nie, met slegs Craig Barry (hou op bobeen) en Rosko Specman (knie) wat die veld as voorsorgmaatreël verlaat het.

Jy sal dink ’n breier wie se span pas met 7-40 kafgedraf is, sal in sak en as sit, maar dit was allermins die geval met Scott Mathie, afrigter van die Poubloues.

Scott Mathie, hoofafrigter van Griekwas. Foto: Argief

Dit was immers die eerste keer in meer as ’n jaar dat die meeste van sy spelers in ’n wedstryd betrokke was. Hy weet dat geduld die wagwoord is.

“Dit was maar bietjie deurmekaar, met die ouens wat verroes is. Maar ek is tevrede en ek het nie eintlik iets anders verwag nie. Jy kan sien die Cheetahs het aan die begin van die jaar gespeel (in die Pro14-reeks) en dit het beslis ’n verskil gemaak.”

“Wanneer jy so lank buite aksie was, is die belangrikste net om weer terug te kom en iets te hê om op te bou. En ons het baie om op voort te bou.

“Die belangrikste is dalk dat daar nie beserings was nie. ’n Mens is altyd bang as jy so lank weg van die veld was dat spelers seer kry,” sê Mathie.

“Ek het geweet dit gaan moeilik wees en dinge gaan dalk nie heeltemal vlot verloop nie. Maar ek is positief dat ons dit sal kan uitsorteer in die komende week en dan reg sal wees wanneer die Curriebeker begin. Ons sal beslis volgende week beter wees.”

• Dié twee spanne is Vrydag weer slaags, die keer in Bloemfontein.

Meer oor:  Scott Mathie  |  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Kimberley  |  Poubloues  |  Cheetahs  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.