Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Heksejag teen ‘verraaiers’ in WP Rugby
Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, meen daar is verraaiers in die Kaapse unie se midde. Foto: Gallo Images

’n Briesende Zelt Marais, president van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), is op ’n interne heksejag teen beamptes wat hy meen die unie “verraai” deur inligting aan die media uit te lek.

In ’n verklaring van vier bladsye, wat skynbaar intern gesirkuleer en selektief aan joernaliste gestuur is, bevestig Marais dat daar onderhandelinge met die Amerikaanse konsortium MVM Holdings is oor ’n moontlike belegging in die WPRU se sakevleuel.

In dieselfde asem sê hy egter dat die media wat oor dié voorgestelde transaksie berig het, “verkeerde inligting” verkondig het.

André van der Veen, ’n onafhanklike direkteur op die WPRU se sakevleuel, het dié belegger, wat die regsgeleerde en sakeman Marco V. Masotti aan die spits het, gevind. Masotti-hulle is bereid om R100 miljoen in die WPRU te belê, twee derdes in die sakevleuel en die res in die unie self.

Vir Van der Veen is daar egter stank vir dank, want die unie wil in die naam van transformasie van hom ontslae raak wanneer sy termyn as direkteur eersdaags verstryk.

Marais het in sy verklaring ook nie komplimente uitgedeel nie. Ná drie paragrawe waarin hy met sensitiwiteit oor die Covid-19-pandemie praat, trek hy los met ’n tirade teen dié wat hy meen die vyand in die WPRU se midde is.

“Dis teen daardie agtergrond (Covid-19) dat ek my uiterste teleurstelling wil uitspreek en aan julle verslag wil doen dat beamptes wat deur julle verkies is en/of in die leierskapstrukture van WP Rugby aangestel is, gekies het om dié organisasie deur die media te dien,” sê Marais.

Die meeste van die lede wat die unie dien, vind die gedrag van lede wat hulle aan sulke verraderlike dade skuldig maak, skandelik en onbetaamlik vir ’n leier.
Zelt Marais

“Die meeste van die lede wat die unie dien, vind die gedrag van lede wat hulle aan sulke verraderlike dade skuldig maak, skandelik en onbetaamlik vir ’n leier.

“Ek doen weer eens ’n beroep op enige persoon wat WP Rugby op só ’n manier dien, om eerder jou pos eerbaar te ontruim, of eerder ’n einde te bring aan jou drang om jou posisie van vertroue te misbruik deur inligting aan die media uit te lek, wat meestal buite konteks aangehaal word, of uitgelek is met die doelwit om besluite in die raadsale te beïnvloed.”

Oor die moontlike transaksie met die Amerikaanse belegger, sê Marais dat enigiets waarop ooreengekom is die belange van die unie, wat 100% van die aandele in die sakevleuel besit, op lang termyn sal moet dien.

André van der Veen

Daar word ook gesê dat die groep onafhanklike direkteure op die sakevleuel “getransformeer” sal word om dit “vanuit ’n demografiese perspektief meer verteenwoordigend te maak”.

Van der Veen en Johan van der Merwe, voorsitter van die direksie, se termyne verstryk eersdaags.

Die nuus dat dit Van der Veen is wat ’n moontlike belegger in WP Rugby gekry het, maak sulke agendas egter ’n verleentheid.

Masotti het ook aan Netwerk24 gesê dat hy vir Van der Veen betrokke wil hê, asook dat beheer van die sakevleuel se direksie ’n voorwaarde van die transaksie sal wees. Die unie wil egter beroepsrugby beheer, wat die transaksie kan laat skipbreuk ly.

Meer oor:  Marco V. Masotti  |  Andre Van Der Veen  |  Zelt Marais  |  Kaapstad  |  Media  |  President  |  Rugby  |  Woedend  |  Wpru  |  Belegger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.