Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugby bly in jou bloed, sê Gerber voor inhuldiging
Helde-eer vir Doring van Despatch

Vir Suid-Afrika is hy die Doring van Despatch. Gespierd, vlugvoetig, balvaardig, blitsig van die merk af en met ’n oog vir ’n gaping.

Danie Gerber versinnebeeld die volmaakte aanvallende rugbyspeler omdat hy die totale pakket is. Hy het oor die kwaliteit beskik om sy man aan die binne- of buitekant te klop, so bedrieglik was sy aftrap en vaart.

As ’n skoolseuntjie het hy sokker gespeel “omdat die Laerskool Southdene, daar in die bosse skuins agter die lughawe in Port Elizabeth, nie sportvelde gehad het nie, en ook nie rugby aangebied het nie,” onthou hy.

Danie Gerber duik oor vir ’n drie teen Frankryk in Lyon in 1992. Foto: Gallo Images

“So ons het maar pouses, en so nou en dan teen ander skole, sokker gespeel. As daar ’n bal was, selfs ’n tennisbal, het ons dit geskop. Dis waar dit begin het. En, dis hoekom ek van kleins af met albei voete kon skop en na links en regs kon aftrap.”

Gerber het as ’n leerling van die Hoërskool Despatch – dieselfde skool waar die Bok-afrigter Rassie Erasmus op skool was – van st. 8 tot matriek in drie Craven-weke vir die Oostelike Provinsie se skolespan gespeel.

Suid-Afrika se beperkte betrokkenheid by toetsrugby weens die apartheidsbeleid het Gerber se toetsloopbaan tot 24 toetse beperk. In sy toetsloopbaan, wat van 1980 tot 1992 gestrek het, het hy nietemin 19 drieë gedruk. Sy driedruk-tempo van 79,2 is steeds die beste van alle Springbokke (sien grafika hier onder).

“Apartheid het ons as spelers geknou. Ek sou waarskynlik in meer as 100 toetse gespeel het en ook aan twee Wêreldbeker-toernooie (1987 en 1991) kon deelneem as dit nie vir die sport-isolasie was nie.”

Hoe min hy op die toetsverhoog was, doen egter nie afbreuk aan sy ster-status nie en sy eersdaagse insluiting as lid van die SA Heldesaal is die bewys daarvan.

As hy oor sy toetsloopbaan praat, is die 1981-toer na Nieu-Seeland dadelik op die voorgrond. “Dit was ’n abnormale toer, ’n ongelooflike ervaring,” vertel Gerber.

“Ons moes in kleedkamers slaap voor toetse, daar was betogings by ons oefeninge, die betogers het buite ons hotelle gestaan en skree in die nag en daar was altyd polisie om ons. Ek dink nie vandag se spelers het ’n idee hoe maklik hulle dit het nie vergeleke met wat ons toe deurgemaak het.

“Die 1981-Springbokke het egter ’n helse spangees gehad en dit het ons deurgetrek. Ons moes eintlik daardie reeks gewen het.

“Gedurende die derde en beslissende toets in Auckland was daar die ligte vliegtuig wat heeltyd laag oor die veld geduik en ons met meelbomme bestook het. Dit het dinge moeilik gemaak vir ons in die eerste helfte, omdat ons in die rigting gespeel het van die aankomende vliegtuig.

“Die telling was kort voor die einde nog gelykop, en dit was net ’n twyfelagtige beslissing deur die Walliese skeidsregter Clive Norling wat aan Allan Hewson die kans gegee het om in die doodsnikke ’n strafskop oor te sit wat die All Blacks met 25-22 laat wen het.”

Teen Hugo Porta, die legendariese Poema-losskakel, se Suid-Amerikaanse toerspan het hy drie keer gaan druk en die Bokke het met 50-18 gewen.

Toe volg die sportboikot wat Suid-Afrika agt jaar uit toetsrugby gehou het. Gerber was ’n slagoffer van dié tyd.

Danie Gerber (agter) en sy gesin (van links): Danré, Elsabe, Elanie en Julie (skoondogter).

Die rebelle-toer van die Nieu-Seelanders in 1986 het die land weer “toetse” gegee om na te kyk en in Durban het Gerber vir nog een van sy tower-oomblikke op die speelveld gesorg toe hy Jaco Reinach ná ’n breekslag weggestuur het doellyn toe.

Hy het self ’n onvergeetlike drie gedruk nadat hy en Carel du Plessis op sensasionele wyse saamgespan het om die Kiwi-dekverdediging van diep binne hul eie halfgebied uit te oorlê. “Carel het ’n ongelooflike aanvoeling vir die spel gehad,” meen Gerber.

“Dit was spesiaal om in die Springbok-agterlyne van 1981 en 1986 te kon speel saam met ouens soos Naas Botha, Ray Mordt, Carel, Michael en Willie du Plessis, Divan Serfontein, Gysie Pienaar en Johan Heunis; hulle het almal presies geweet wat om te doen en ons het eenvoudig gekliek.”

Ses jaar later was Gerber en Botha die enigste oorblywende lede van die 1986-agterlyn toe Suid-Afrika die magtige All Blacks in die nuwe Suid-Afrika voor 72 000 toeskouers op Ellispark aangedurf het.

Wat anders het ’n mens verwag as dat Gerber die All Blacks sou kasty, met twee sprankel-drieë! En dit op 34-jarige ouderdom. “Dit was nogal ’n prestasie, veral omdat die jong laaities my begin druk het!

“Mense het gedink as jy 30 is, is jy stokoud. Ek was egter steeds topfiks. Ek het net so hard, indien nie harder nie, as vandag se professionele spelers geoefen. En ons moes nog werk vir ons bestaan ook!

“As ’n senior in 1992 was ek egter geweldig beïndruk deur ’n opkomende speler soos James Small. Hy is bestempel as ’n rebel, maar hy was helse gemotiveerd.

“James het dit gehaat om te verloor en sou gesterf het vir daardie Groen-en-goud-trui.”

Een van Gerber se beste herinneringe was nie in die Groen-en-goud nie, maar wel in die swart en wit van sy klub, Despatch. Onder aanvoering van Gerber het Despatch vriend en vyand verras deur in 1985 en 1988 die jaarlikse Nasionale Klubkampioenskap in Durban te wen.

“Despatch is ’n klein gemeenskap en ons was die enigste span op die dorp,” vertel hy. “Maar ons het ook ontsettend hard geoefen, ons was soos broers en het vir mekaar gespeel. As jy daardie kwaliteit in ’n span het, dan het jy nie groot name nodig nie, en dis hoekom ons spanne soos Shimlas en Tuks, met al hul Springbokke, kon klop.”

Een van Gerber se minder aangename herinneringe was toe hy in 2002 ’n dubbele hartomleiding moes ondergaan.

“Ek was steeds topfiks, maar het so nou en dan uitgeput gevoel,” onthou hy. “Uiteindelik het toetse getoon dat ek aan ’n oorerflike hartdefek ly.

“Dit het my laat besef dat ’n mens niks as vanselfsprekend kan aanvaar nie, en dat so iets, al is jy hoe fiks, soos ’n dief in die nag toeslaan.”

Gerber ondergaan nog jaarliks toetse, maar is tans so gesond as kan kom.

Hy is bedrywig met allerlei rugby-funksies soos gholfdae en manne-aande, en rig ook gereeld by skole af.

“Rugby is steeds in my bloed; ek is mal daaroor . . .”

Danie en Elsabe Gerber het twee kinders, Danré (30), wat vir Mont-de-Marsan in Frankryk klubrugby speel, en Elanie (35), wat die afgelope 14 jaar au pair-werk in die buiteland doen.

Gerber word op 15 Augustus, saam met wyle dr. Danie Craven en Frik du Preez in die SA Heldesaal ingelyf op ’n glansgeleentheid in Pretoria.

“Ek voel geëerd om sulke erkenning te kry, veral aangesien ons so min internasionale rugby gespeel het. Dit wys dat ons iets reg moes gedoen het voor 1992.”

Só sê legendes oor Gerber
  •  “Vir my as kaptein van 1981 se betogertoer, was Danie ’n integrale deel van die toerspan. Behalwe dat hy ’n fenomenale speler was, was hy ook een van die sentrale figure wat die toer aan die gang gehou het met sy positiewe benadering. Hy was ontsettend lojaal teenoor my as kaptein in daardie moeilike eerste deel van die toer. Dan het Danie, van die veld af, ook altyd ’n bietjie van ’n ondeunde streep gehad?.?.?.” 
  • “Onversetlik, emosieloos en doelgerig oor sy rol in die span. Ek sou veel eerder saam met hom as teen Danie wou gespeel het.” – Murray Mexted, voormalige All Black-agsteman
  •  “Ek het Danie ontmoet toe ons in 1983 saam vir die Barbarians teen Skotland gespeel het. Hy was eenvoudig in ’n ander klas. ’n Week later het die Baabaas teen Cardiff gespeel, en Danie het vier drieë gedruk, onkeerbaar! Hy is een van die beste senters ooit. Hy het oor ongelooflike vaardighede beskik, maar dit was sy krag, spoed en balans wat hom besonders gemaak het.” 
  •  “Danie was ’n fantastiese speler met hope vaart, visie en vaardighede. Hy was die soort speler wat eenvoudig sy stempel kon afdruk op ’n wedstryd met die bal in die hand. ’n Mens het geweet dat jy jou hande vol het as jy teen hom speel.” 

    Meer oor:  Danie Gerber  |  Rugbyspeler
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.