Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hemelbesem in Kimberley ná afjak by Bulle
Adré Smith hoop om die besluitnemers in Pretoria met sy spel vir Griekwas te laat bloos Foto: Gallo Images

’n Paar weke nadat die inperking weens die Covid-19-pandemie begin het, moes Adré Smith inderhaas ’n nuwe rugbyheenkome vind nadat die Bulle aangedui het dat hulle nie langer in sy dienste belangstel nie.

Dié 23-jarige Swellendammer van geboorte, wat 2,01 m in sy sokkies staan en as slot of flank kan diens doen, sal hom op 1 November by Griekwas aanmeld.

Tot dan is hy as’t ware kontrakloos, maar hy het reeds na Kimberley verhuis, waar hy voorberei vir wanneer die stadion se hekke vir hom oopgemaak word. Smith erken die afjak wat hy by die Bulle gekry het, was aanvanklik ’n bitter pil om te sluk.

“Ek sien baie uit om by Griekwas aan te sluit, omdat dit ’n kleiner groep is, is daar meer fokus op elke speler. Hulle (die Poubloues) was nogal altyd vir my ’n besonderse span met baie trots,” sê Smith.

Ek is glad nie negatief nie, want dit het vir my gevoel of ek nie vordering gemaak het in die tyd wat ek by die Bulle was nie.
Adré Smith

“In die oomblik (toe Loftus se hekke vir hom gesluit is) was dit nie lekker nie, maar nadat ek ’n ruk daaroor gedink het, het ek baie meer positiwiteit in die saak gevind. Ek is glad nie negatief nie, want dit het vir my gevoel of ek nie vordering gemaak het in die tyd wat ek by die Bulle was nie.”

Hoewel Smith nie enige wrok teenoor die Pretorianers koester nie, sal hy graag vir hulle met sy spel wil wys wat in hom steek.

“Soos hulle sê, moet jy nooit jou brûe verbrand nie. So ek sal hulle (die Bulle) net graag wil wys dat ek beter is as wat hulle gedink het.”

Adré Smith in aksie vir die Suidwestelike Distrikte in 2014 by die Cravenweek-toernooi. Foto: Gallo Images

Smith was ’n belowende skolespeler, wat die Suidwestelike Distrikte in 2014 en 2015 in die Cravenweek-toernooi verteenwoordig het. Ná skool het hy hom by die Goue Leeus aangesluit en dié unie op o.19- en o.21-vlak verteenwoordig.

Sedert hy in 2018 ’n Pretorianer geword het, het dinge maar teen ’n slakkegang vir hom verloop.

Die oud-Blitsbok Malan du Plessis, wat hom destyds by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal gebrei het, sê hy het altyd geweet Smith is ’n talentvolle speler.

“Hy het ’n ongelooflike teenwoordigheid op die veld gehad en is iemand wat dinge in die enjinkamer laat gebeur het. Hy was lojaal aan die span en het beslis die potensiaal om dit ver te bring, omdat hy die volledige pakket is en boonop die regte gesindheid het.

“Een van sy leemtes destyds was wel dat hy verskriklik aggressief op die veld was en baie geelkaarte gekry het,” sê Du Plessis.

Meer oor:  Kimberley  |  Pretoria  |  Griekwas  |  Rugby  |  Slot  |  Bulle  |  Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.